Friday, April 16, 2010

Water laat inwoners na hul asems snak..Kroonstad ,Steynsrus en Viljoenskroon







Water laat inwoners na hul asems snak
2010-04-16 00:12


JOHAN BRITS
Kroonstad se drinkwater wat uit die kouewaterkraan kom, kan enigiemand laat dink dat dit óf flou sjampanje óf vuil reënwater is weens die gelerige skynsel daarvan.Die Moqhaka-munisipaliteit, wat benewens Kroonstad ook Steynsrus en Viljoenskroon bedien, het eergister aan Volksblad bevestig ’n vermoede bestaan dat Kroonstad se drinkwater nie 100% skoon is nie. Dorpenaars is die afgelope dae platgetrek weens maagaandoenings.Hoewel daar tans nog geen klinkklare bewyse is dat dié siekte aan die watergehalte toegeskryf kan word nie, is die toeval net te oorweldigend.Sedert die water ’n gelerige skynsel het, is menige geval van maagaandoenings aangemeld. Voorts het die munisipaliteit te midde van die maagsiektes erken die water is dalk nie 100% skoon nie.’n Apteker met wie Volksblad gepraat het, meen die water is die oorsaak van die groot aantal siektegevalle.Hy verkies om anoniem te bly omdat hy nie water laat toets het nie, maar uit ondervinding glo die water lei tot die ongestelde mae.Mnr. Khojane Madiba, munisipale woordvoerder, het eergister gesê die chloor by die watersuiweringsaanleg sou vermoedelik teen gisteroggend op gewees het.Toe Volksblad hom gisteroggend gebel het om te vra of die chloor wel opgeraak het en of nuwe chloor inderhaas aangekoop is, het hy Volksblad na die ander munisipale woordvoerder, me. Veronica Ntepe, verwys omdat hy op pad Bloemfontein toe was.By navraag het Ntepe gesê sy is op pad Viljoenskroon toe en Madiba moet nie die media na haar verwys as hy aanvanklik daaroor kommentaar gelewer het nie.Madiba sê wel inwoners moet tot tyd en wyl liefs water kook voordat hulle dit drink.Mnr. Carel Venter, ’n Kroonstadse inwoner, sê hy het “omtrent by die dood omgedraai” weens sy maag.“Die water wat uit die stortkop (by my huis) uitkom, is eenvoudig vrot. Daar is nie ’n ander woord vir dit nie. Ek raak naar as ek daardie water gebruik.”Venter sê hy het verlede jaar Augustus teen R6,500 ’n filterstelsel in sy kombuis laat aanbring.“Einde November het die water snaaks begin smaak. Ons het mense van Pretoria gekry om die filters te vervang. Die mense het foto’s geneem omdat hulle nog nooit sulke vuil filters gesien het nie.“Drie maande later is filters weer vervang en dit was pikswart.”Venter sê die grootste ramp wat Suid-Afrika “nog in die gesig gaan staar, is die water van die land”.Hoewel die water nie ’n skerp stank het nie, ruik dit nie soos water moet ruik nie.Sommige inwoners meen die water ruik na vis.Mev. Jean Hattingh, ’n VF+-raadslid in die Moqhaka-munisipaliteit, sê die vraag moet gevra word: “Waar is die mense wat beheer moet uitoefen? Hierdie is mense se lewe. Dit is nie ’n slaggat in ’n straat waar óm jy kan ry nie.”
- Volksblad

No comments:

Post a Comment