Wednesday, April 21, 2010

Pa hoor dogter se hulpkrete voor moord







Pa hoor dogter se hulpkrete voor moord



2010-04-21 01:55
Malani Venter
Stellenbosch
’n Pa het gehoor hoe sy 16-jarige dogter ’n paar meter van die huis om hulp roep kort voordat haar aanvaller haar glo verkrag en daarna vermoor het.
Alicia Muller van die plaas Morning Glory buite Villiersdorp is Maandagoggend vroeg in ’n boord op dié plaas oorval en doodgemaak. Sy is vermoedelik eers verkrag en daarna herhaaldelik met ’n mes gesteek.
Ao. Sylvester de Long, ’n polisiewoordvoerder van Villiersdorp, het gesê dié gr. 10-leerder was alleen op pad na die punt van die boord waar die skoolbus die plaaskinders oplaai.
De Long het gesê die slagoffer se ouers het haar omstreeks 06:45 hoor skreeu. Haar pa – wie se naam nie aan die polisie bekend is nie – het dadelik gaan ondersoek instel. Hy het op die skoktoneel afgekom waar ’n man bo-op Alicia gesit het.
“Die man het skielik opgespring en die slagoffer se pa met ’n mes aangeval. Die pa het daarin geslaag om weg te kom en het gaan hulp soek,” het De Long gesê.
Nadat Alicia se pa met ander plaaswerkers na die toneel teruggekeer het, is haar lyk in ’n ravyn langs ’n rivier gevind. Daar was verskeie steekwonde in haar bors. Die aanvaller het toe reeds gevlug.
Die motief vir die aanval is nog onbekend, het De Long gesê.
Die polisie glo mnr. Aäron Setona (ongeveer 25 jaar oud), ook bekend as Papie en ’n buurman van die oorledene, kan hulle in die ondersoek van die saak help.
Enigiemand met inligting oor die voorval of wat weet waar Setona is, moet speurkonst. Hendré Baardman by 079 893 9915 of 028 840 8019 bel.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment