Tuesday, May 11, 2010

Meisie-atleet toe grypdief se moses


Meisie-atleet toe grypdief se moses

2010-05-11 01:26
Abrie Burger
’n Vrou se waardevolle hangertjie wat Saterdag deur ’n boef van haar nek in die Middestad-winkelsentrum geruk is, is binne minute deur haar atleetdogter aan haar terugbesorg.Me. Delmarie Reynolds sê sy en haar dogter, Samantha (17), het in die middaguur by Ackermans uitgekom en was op pad na Meltz, toe die boef haar handsak wou gryp.“Terwyl ek besig was om die handsak terug te trek, het hy my hangertjie van my nek geruk en gehardloop.”Samantha, ’n matriekleerling en atleet wat in die 100 m en 200 m uitblink, het omgedraai en die skurk agternagesit.Samantha het die boef ingehardloop en van sy voete gestamp. Sy het hom teen ’n winkelvenster vasgedruk en haar elmboog teen sy keel gehou.“Ek het die hangertjie teruggevra en hy het dit eenkant gegooi. Ek dink hy het geskrik vir die mense wat nader gekom het.”Reynolds sê sy het net gebid dat haar dogter veilig na haar moet terugkeer. Toe Samantha terugkom by Reynolds, het sy net gesê sy sal enigiets vir haar ma doen.“Dit was vir my baie oorweldigend. As ma moet jy jou kind beskerm, en hier doen sy dit vir my.”Reynolds het die hangertjie nou al 15 jaar en sê dit was ’n geskenk van haar man.Samantha, wat al die Suid-Vrystaat in atletiek verteenwoordig het, sê haar besluit om die skurk agterna te sit, was instinktief. Sy het nie eens daaraan gedink dat hy dalk gewapen kan wees nie.

No comments:

Post a Comment