Sunday, May 9, 2010

Vryheidsfront Plus


VF+ :

Die realiteit van Suid-Afrika is dat daar meer as 5,56 miljoen mense die afgelope sewe jaar slagoffers was van geweldsmisdaad in Suid-Afrika. Meer as 328 000 mense is vermoor in Suid-Afrika vanaf 1994. Dit is gemiddeld 60 mense per dag. Daar is amper 800 000 vroue verkrag in Suid-Afrika sedert 1994. Dit beteken daar word ‘n vrou elke 10 minute in Suid-Afrika verkrag. Wanneer hierdie debat afgehandel is, sal daar minstens 14 vroue wees wat verkrag is. Die Grondwet plaas ‘n plig op die minister van Polisie om te verseker dat die mense van Suid-Afrika beskerm moet word teen misdaad en dat hulle moet veilig wees. Uit bostaande syfers is dit duidelik dat dit nie gebeur nie. In die lig hiervan gaan die VF Plus amptelik ‘n voorstel indien dat daar ‘n spesiale fonds vir die slagoffers van geweldsmisdaad ingestel word. Die trauma en menslike leed van slagoffers van geweldsmisdaad veroorsaak geweldige hoë kostes vir daardie slagoffers. Ek hoop dat die ANC hierdie voorstel sal ondersteun om minstens ‘n poging aan te wend om finansiële verliese van slagoffers as gevolg van geweldsmisdaad te beperk. Ek is bewus dat die Minister sê dat plaasmoorde nie verpolitiseer moet word nie. Die werklikheid is weereens dat die Minister nie kan ontken dat daar wel gevalle van plaasmoorde is waarby ‘n politieke motief betrokke is nie. Hoe verklaar die Minister dat ‘n plaasmoord plaasvind, maar niks word gesteel of niks word daarna vermis nie? Daar kan dan net een motief wees en dit is ‘n politieke motief. Die VF Plus sal binnekort bewyse van politieke motiewe by plaasmoorde aan die Minister beskikbaar stel. ‘n Ander aspek is die vuurwapen-herlisensiëringsproses. Die Minister het verklaar dat vuurwapeneienaars in die amnestie-periode wel weer kan aansoek doen vir herregistrasie van hulle vuurwapens. Dit het egter nie gebeur nie en mense is weggewys wat dit wou doen. Ek het vir die Minister ‘n vraag in die Parlement gevra oor hoeveel wettige vuurwapens in misdaad gebruik is deur die wettige eienaars asook deur misdadigers. Die Minister se antwoord was dat hy my nie kan sê nie. Nou vra ek die Minister hoe kan hy wettige vuurwapeneienaars daarvan beskuldig dat hulle bydra tot misdaad as hy nie eers die syfers vir my kan gee nie. Die misdaadsituasie in Suid-Afrika vereis dat wetsgehoorsame burgers hulself moet bewapen teen misdadigers. Ek weet van hoeveel gevalle dat indien mense nie hulle vuurwapens by hulle gehad het nie, dan sou hulle slagoffers gewees het van moord. Ons moet ophou om wettige vuurwapeneienaars te teiken asof hulle bydra tot misdaad. Dit is eenvoudig nie waar nie. Die Polisie moet vertroue inboesem by die publiek. Die Minister is op rekord waar hy gesê het hy wil die Polisiediens suiwer van misdadigers. Hoe is dit dan moontlik dat ‘n slagoffer van ‘n rooftog ‘n polisielid herken by ‘n polisiestasie, maar die Polisie skors nie die lid nie en hy is nog steeds op diens by die polisiestasie. Dit kan nie geduld word nie, want dit skep wantroue teenoor die Polisie en die Minister moet optree teen sulke gevalle anders kom hy nie sy grondwetlike plig na nie.

No comments:

Post a Comment