Thursday, May 13, 2010

Al wat Zuma mos kort, is ’n stort







Al wat Zuma mos kort, is ’n stort



2010-05-12 23:55
Pres. Jacob Zuma dans by die geleentheid waar hy aangekondig het dat hy MIV-negatief is. Mokonyane, premier van Gauteng. Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Pres. Jacob Zuma het aan sy eie aansien gedink toe hy aangekondig het dat hy MIV-negatief is eerder as aan die implikasies wat sy aankondiging vir die stryd teen die pandemie sou hê, meen Johannes Wessels, ’n ontwikkelingskundige.In ag genome die basiese joernalistieke reël dat “hond byt man” nie nuus is nie, maar wel “man byt hond”, was dit reg dat verskeie koerante pres. Jacob Zuma se aankondiging dat hy MIV-negatief is as hoofberig aangebied het. Dit op sigself maak al van Zuma ’n redelik unieke regeringsleier: In die meeste ander lande sou so ’n uitslag net hoofnuus gehaal het as die aankondiging was dat die regeringsleier MIV-positief bevind is.In ag genome die erkennings wat Zuma self gedoen het in die hofsaak waarin hy aangekla (en onskuldig bevind) is aan verkragting, asook oor kinders by nie net sy huidige getal vroue nie, was daar waarskynlik baie druk op hom om wel ’n aankondiging te doen. Maar sy in-sy-skik-aankondiging oor sy MIV/vigsvrye status dompel die hele stryd teen die MIV/vigs­pandemie in dieselfde probleme as waarin Suid-Afrika se rioolsuiweringstelsels verval het. Ons het met loutere s****t te doen.Hoe kan die ANC-regering nou enigsins ’n veldtog teen MIV/vigs lei en:
kondome as belangrik in daardie stryd voorhou as dit duidelik is dat die ANC-leier nou nie juis kondome gebruik nie?; of
?onthouding aan seks buite die huwelik as gepaste leefstyl aanmoedig terwyl die ANC-leier om elke hoek en draai daardie riglyn oorsteek? Dié aankondiging kom juis in ’n fase waar dit lyk of die ANC grondig gebreek het met die vigs-ontkennende onsin van oudpres. Thabo Mbeki se bewind waarin kwaksalwery as die antwoord aangedien is. Hoe gaan die aankondiging nou inwerk op die owerheid se pogings om ’n nuwe benadering teen MIV/vigs te laat inslag vind?Gaan onthoudingspreke en kondoombemarking werklik inslag vind onder die nie-werkende jong massas of gaan hulle eerder handel na die voorbeeld wat gestel word deur Zuma, ’n werklik suksesvolle leier in hul oë? Hy is immers die onaantasbare:
g’n hof kan hom vasvat nie;
as ongeleerde sit hy die hovaardige Mbeki ore aan;
die staatsapparaat wat aandui daar is prima facie-getuienis van bedrog teen hom, pypkan hy deurdat sy hulpstrukture inligting (verkry op bedenklike en nie-grondwetlike wyses deur afluistering) openbaar maak sonder dat daar enige ondersoek kom oor hoe sulke inligting in sy kraal geval het; en
hy verontagsaam die wetlike verpligting oor verklaring van bates: Hy is immers bo die wet.Duidelik die onaantasbare Teflon-man aan wie geen blaam kleef nie, verpersoonlik hy – teenoor Mbeki se vreemde Westerse nabootsing – die ware Afrika-renaissance. Dit is die herlewing van die Groot Man in Afrika. En dit strek wyer: Kyk, selfs geen teken van MIV/vigs nie. Dit is amper iets om ’n liedjie oor te sing: “Al wat ek kort, is ’n stort...”Die regering se gepredik oor kondome en onthouding of getrouheid kom sleg tweede teenoor die voorbeeld van die magtige man.In gesondheids- en ontwikkelingshulpgeledere word die dilemma besef waarin die president hom bevind.’n Woordvoerder van een van die groot internasionale ontwikkelingsagentskappe wat geld beskikbaar stel vir die stryd teen MIV/vigs, het teenoor my opgemerk: Hoekom het hy aan sy eie aansien gedink, eerder as aan die implikasies wat die impak van sy aankondiging op die noodsaaklike stryd teen die pandemie sou hê? Hy moes liefs geswyg het, want swye ná die vigstoets sou die bespiegeling dat hy moontlik MIV-positief sou wees, laat toeneem. En dit sou kon help om sowel onthouding aan seks buite ’n eksklusiewe verhouding, asook die gebruik van kondome as belangrike strategieë te vestig. Sy afgemete aankondiging oor die saak het ’n ander ontwikkelingshulp-raadgewer laat opmerk dat hy vir die president op hierdie aspek ook ’n druippunt sou gee.Net soos wat verskeie koerante sy niksseggende openingsrede van die parlement vroeër vanjaar as ’n druipsyfer aangedui het. Voeg daarby Mondli Makhanya, oudredakteur van die Sunday Times, se taksering dat die president se ingenome bekendmaking van sy MIV/vigsvrye status prakties die stigmatisering van MIV-positiewes versterk en ’n mens het duidelik te doen met ’n aankondiging wat fatale gevolge inhou vir die stryd teen die pandemie. Dit maak dat die ANC-leierskorps nou in twee uit drie gevalle (sowel onder Mbeki en Zuma) die land in een van sy grootste krisisse in die steek laat.Daarby het ons nou ’n president wat meer van ’n verleentheid is wanneer hy sy mond oopmaak as wanneer hy sy gulp oopmaak.En dit maak hom ’n redelik unieke leier: een in ’n heel ander klas as Bill Clinton, John F. Kennedy of Pierre Trudeaux.

No comments:

Post a Comment