Monday, May 3, 2010

Boewe teiken fietsers ál meer







Boewe teiken fietsers ál meer



2010-05-02 22:53

André Damons
Selfs fietsryers is nie meer veilig as dit kom by misdaad nie. Twee bergfietsryers het eergister die soveelste slagoffers geword van vermoedelik ’n kaperbende wat bergfietsryers in ’n natuurreservaat noord van Johannesburg teiken.Die fietsers is by die Northern Farm-natuurreservaat van hul duur fietse en ander items beroof. Twee weke gelede is twee ander fietsryers op soortgelyke wyse in dieselfde omgewing, ’n gewilde plek vir bergfietsryers, aangeval.Volgens me. Heidi Twiss, ’n fietsryer van Club 100 wat met die twee beroofde fietsryers gepraat het, het die jongste voorval eergister omstreeks 10:00 op een van die mees geïsoleerde plekke op die fietsryroete naby die N14-hoofweg gebeur.Twee mans het hulle as voetgangers voorgedoen, maar voor die fietsryers ingespring en ’n pistool en mes te voorskyn gebring.“Die rowers het als gevat – hul fietse, selfone, rugsakke, sonbrille, hemde, skoene, valhelms, toerusting, als. Dit is vreeslik,” het sy gister gesê.Die twee fietsryers moes sowat 5 km in net hul fietsrybroeke na die klubhuis van die natuurreservaat loop.Die fietsryers wat twee weke gelede aangeval is, is ook van hul klere beroof.Mnr. J.J. Botha, ook ’n bergfietsryer, het gister aan Beeld vertel hoe vermoedelik dieselfde mans en nog ’n makker hom in Desember op pad na Northern Farm voorgelê het. Die werkwyse was dieselfde. “Hulle het my in die veld ingedwing. “Een van hulle het met sy knieë op my rug gesit en ’n ander een het my kop in die gras ingedruk.”Volgens hom het die rowers gedreig om hom te skiet as hy dit sou waag om na hulle te kyk. Een van die rowers het die magasyn uit sy pistool gehaal en Botha gewys daar is koeëls in. Botha is van sy fiets ter waarde van sowat R60 000 en ander persoonlike goedere soos sy selfoon, iPod, kontant en sonbril beroof.Mnr. Andrew Bennett, nog ’n fietsryer, het op die Cycle Lab se webwerf geskryf hy en nog ’n fietsryer is ook in Desember deur drie mans van hul fietse, skoene en brille beroof toe hulle van Northern Farm na die Broadacres-sentrum op pad was.Mnr. Simon Nash, voorsitter van die Northern Farm-ontspanningsgroep, het gister gesê vyf voorvalle het al vanjaar by die plaas gebeur waar fietsryers beroof is.In al die gevalle was die werkwyse feitlik dieselfde en het die rowers die slagoffers se fietse en ander persoonlike besittings gevat.“Dit is ’n groot probleem,” het Nash gesê. “Ons moet dit stop voordat mense seerkry.” Hy vermoed die rowers kom van die nabye Diepsloot-plakkerskamp. Mnr. Johan Coetzee van die webwerf Mountain Bike SA het gesê bergfietsry is ’n vinnig groeiende sport, maar raak gevaarlik weens voorvalle soos dié. “Dis ’n bekommernis. Mense moet in groter roepe ry en meer bedag wees,” het hy gesê.Fietsryers is vroeër vanjaar ook in Centurion geteiken. Me. Mathilda Barnard is in Januarie met ’n mes in die nek deur rowers gesteek en langs die voetpaadjie gelos waar sy gery het.

No comments:

Post a Comment