Sunday, May 2, 2010

Aanval op Bloemfontein-vrou skok wyd







Aanval op Bfn-vrou skok wyd



2010-05-01 00:20

Pieter Steyn
Die Mangaung-munisipaliteit is gister geruk toe ’n lid van sy personeel omstreeks 07:00 na bewering erg aangerand en verkrag is in haar kantoor.
Die vrou, in haar laat veertigs, is na wat verneem word naak en bewusteloos deur ’n kollega in die kantoor in die Stadsaal-gebouekompleks in Bloemfontein gevind.
Verslae kollegas het gisteroggend in groepies gestaan en hul skok en ongeloof uitgespreek.
Volgens mnr. Qondile Khedama, munisipale woordvoerder, het die personeel berading ontvang.
’n Personeellid, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê sedert die Paasnaweek is daar geen sekuriteitswagte aan diens by die gebou nie. Khedama ontken dit egter.
“Ons het munisipale sekuriteitswagte wat die omgewing van die munisipale kantore 24 uur patrolleer.”
Hoewel die munisipaliteit ’n sekuriteitstelsel van etlike miljoene rande het, wat onder meer kameras insluit, sê Khedama kameras is nie by die Stadsaal-kompleks aangebring nie.
Me. Esmarie Cronjé, woordvoerder van die Life-Rosepark-hospitaal, waar die vrou opgeneem is, sê sy is erg beseer en ook baie getraumatiseer.
“Sy is in die omstandighede bevredigend en stabiel. Sy en haar familie is te emosioneel en getraumatiseer om kommentaar te lewer. Sy ontvang berading.”
Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie het tekens van gedwonge toegang tot haar kantoor gekry.
Daar word R5 000 vermis uit ’n kas in die kantoor.
Die polisie ondersoek ’n saak van roof.
“Sodra ons die verslag van die distriksgeneesheer ontvang het en dit blyk dat sy verkrag is, sal ’n saak van verkragting ook geopen word,” het Marope gesê.
Prof. Elizabeth Snyman-van Deventer, VF+-raadslid, het gister in ’n verklaring die party se skok oor die voorval uitgespreek.
“Daar word reeds ’n veldtog van 16 dae teen geweld teen vroue en kinders gehou, maar 16 dae blyk nie naastenby genoeg te wees nie. Dis ’n veldtog wat elke sekonde van die dag gevoer moet word.”
Marietjie Gericke berig die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-raad, mnr. Playfair Morule, het op die raad se begrotingsvergadering gister sy skok oor die voorval en simpatie met die vrou en haar familie uitgespreek.
“Dis hartseer en pynlik dat daar so iets met ’n werknemer moes gebeur. En dit nog by die werkplek.
“Ek hoop die polisie maak spoedig ’n deurbraak.”
Morule het homself verskoon van die vergadering om die vrou in die hospitaal te gaan besoek.
Ook mnr. Thami Stander, speaker, het sy skok en afgryse op die vergadering uitgespreek.
“Ons innige simpatie aan haar en haar familie.”
- Volksblad

No comments:

Post a Comment