Sunday, May 23, 2010

AfriForum, VF+ stry oor Mulder




AfriForum, VF+ stry oor Mulder


2010-05-23 00:26
JAN-JAN JOUBERT IN JOHANNESBURGToenemende meningsverskille tussen die burgerregtegroep AfriForum en die VF+, wat lank deur die VF+ ontken is, het in hofstukke tot uitbarsting gekom.Die strydpunt is dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, se deelname aan die ANC-regering, en of dit tot ’n botsing van belange lei.AfriForum se hofstukke voor die gelykheidshof handel oor die saak teen die ANC en die ANC-jeugleier, mnr. Julius Malema, se sing van die lied Kill the Boer. Die gelykheidshof het AfriForum nou versoek dat hul saak en dié van die VF+ teen Malema oor dieselfde onderwerp saamgevoeg word.AfriForum vra egter in die hofstukke dat dit nie gebeur nie.Benewens twee tegniese redes en ’n argument dat die VF+ die opsie het om die saak in die parlement te opper, bring AfriForum Mulder se adjunkministerskap ter sprake as ’n rede waarom die twee aansoeke eerder nie saamgevoeg moet word nie.Die een tegniese rede is dat die VF+ net Malema verkla, terwyl AfriForum sowel Malema as die ANC verkla. AfriForum vra dat die VF+ se saak uitgestel word.In reaksie hierop het mnr. Pieter Groenewald, parlementêre leier van die VF+, gesê AfriForum voer ’n bedenklike argument.“Ek wil dit eerstens duidelik stel dat die gelykheidshof gevra het dat die sake saamgevoeg word; nie ons nie. Ons was wel bereid om dit te aanvaar indien AfriForum bereid sou wees.“Nou dink ek dit is beter dat die sake geskei word, want dis nie ’n goeie idee om die ANC ook te dagvaar nie.“Toe ons destyds die klag teen mnr. Peter Mokaba se sing van Kill the Boer ingedien het, het die destydse sekretaris-generaal van die ANC, mnr. Kgalema Motlanthe, bloot ontken dat dit ’n vryheidslied van die ANC was.“Die ANC kon dus nie verantwoordelik of aanspreeklik gehou word nie en daar is geen regsgronde vir die argument nie.”Wat die ontevredenheid oor Mulder betref, het Groenewald ontken daar is ’n belangebotsing omdat Mulder in die ANC-regering dien.“Die regering word nie aangekla nie. Die ANC is nie dieselfde as die regering nie. Dit is dus eweneens ’n bedenklike argument.“Buitendien weet AfriForum dis onsin. Hoe verklaar hulle dat dr. Mulder ’n strafregtelike klag teen Malema ingedien het?”Mnr. Kallie Kriel, hoofamptenaar van AfriForum, het by navraag gesê hulle staan by die inhoud van hul hofstukke, en dat hul regsadvies is dat dit om verskeie redes nadelig sou wees om hul saak by die VF+ s’n te voeg.“Ons wil nie in ’n stryery betrokke raak nie. Ons fokus is op Malema.” Die gelykheidshof het die saak na die hooggeregshof verwys, met geen beslissing daaroor of die twee sake saamgevoeg moet word nie.

No comments:

Post a Comment