Friday, May 7, 2010

Regses wou glo plofstof plant






















Regses wou glo plofstof plant






2010-05-07 03:11

Lizel Steenkamp
Kaapstad – Die polisie het ’n week ná die moord op die AWB-leier, mnr. Eugene Terre’Blanche, ’n groep verregses in Pretoria in hegtenis geneem wat glo plofstof in townships wou plant.Mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het gister op ’n inligtingsessie by die parlement aan die media gesê verregse groepe “met ’n neo-Nazi-ideologie” is oor die land heen bedrywig.Cele het agterna aan Volksblad gesê verskeie verdagtes wat “verskillende dinge beplan het”, is reeds in Gauteng, Limpopo en die Wes-Kaap in hegtenis geneem.“Ons het nog een gisteraand (eergisteraand) in Polokwane in hegtenis geneem. Ons is besig om hulle te versamel, hulle behoort almal tot verskillende verregse groepe,” het Cele gesê.Mthethwa het gister uit die bloute aangekondig die polisie het op 12 April op ’n “arsenaal van vernietiging” in Pretoria afgekom. “Van die mense wat in Pretoria in hegtenis geneem is, het wapens, wapenonderdele en ammunisie vervaardig. Hulle het ’n arsenaal van vernietiging gehad en het beplan om plofstof in swart townships te plant,” het hy gesê.Dié verdagtes het reeds in die hof verskyn, maar die minister het geweier om meer besonderhede bekend te maak.Hy het ook verwys na verdagtes wat in hegtenis geneem is vir die skending van wyle mnr. Norman Mashabane, ’n voormalige ambassadeur in Indonesië, se graf in Limpopo. “Hulle het nou begin sing (verklarings aflê) en dis die lied van die verregses met hul neo-Nazi-ideologie.”Mthethwa het gesê dié mense bedreig nie staatsveiligheid nie, maar dat die polisie hul ore en oë oop hou.“Hulle hoop om ’n bedreiging te wees en hulle wil graag glo hulle is groot, maar hulle is liggewigte. Ons kan hulle hanteer. Niemand gaan die WB 2010 ontwrig nie, ons monitor álles,” het Mthethwa gesê.Intussen het die VF+ gister onderneem om binnekort bewyse aan Mthethwa voor te lê wat staaf dat sommige plaasaanvalle politiek gemotiveerd is.Mnr. Pieter Groenewald, die VF+ se hoofsweep, het in die debat oor Mthethwa se begrotingsrede gesê daar is bendes van tussen 10 en 16 lede wat aanvalle op plase in Limpopo uitvoer. In sommige gevalle word niks gesteel nie.“My party het ernstige kommer hieroor. Dit kan mos nie gewone misdaad wees nie? Minister, u móét erken dat politiek wel ’n rol in sommige plaasmoorde speel. En ek sal dit aan jou bewys.”Me. Angie Molebatsi, ANC-LP, het Groenewald in Afrikaans aangevat omdat dit geblyk het hy is net oor boere bekommerd.“Ek hoop die agbare lid praat nie net van plaaseienaars nie, maar ook van plaaswerkers. “Moord is moord.”
- Volksblad

No comments:

Post a Comment