Friday, May 7, 2010

Polisiekaptein se stryd teen regstelaksie nog lank nie verby







Polisiekaptein se stryd teen regstelaksie nog lank nie verby



2010-05-07 00:46
Daniëlla du Plooy
Johannesburg
Kapt. Renate Barnard, wat in Februarie ’n verreikende regstellende-aksie-geding teen die polisie gewen het, se stryd teen haar werkgewer is nog lank nie verby nie.
Die arbeidshof het gister die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) se aansoek om appèl toegestaan het. Die saak sal nou in die arbeidsappèlhof aangehoor word – ’n proses wat tot twee jaar kan duur.
Barnard het haar saak in 2009 met die hulp van die vakbond Solidariteit na die arbeidshof geneem nadat die polisie haar jare lank die bevordering na luitenant-kolonel (superintendent volgens die ou range) geweier het.
Die Hartbeespoort-polisiekantoor en die polisie se nasionale inspektoraat wou haar onder meer nie in bevorderingsposte aanstel nie, hoewel sy die enigste geskikte kandidaat was.
Die polisie het verkies om eerder niemand aan te stel nie, wat die hof in Februarie as ’n onbillike toepassing van regstellende aksie uitgewys het.
Dít is omdat ’n wit aanstelling in die betrokke poste sy transformasieteikens in die gedrang sou bring.
Barnard sal nou moet wag tot die tweede verhoor afgehandel is om te hoor of sy wel tot luitenant-kolonel bevorder gaan word.
Indien die arbeidsappèlhof in Barnard se guns beslis, kan die polisie besluit om selfs nog ’n stap verder te gaan en hulle na die konstitusionele hof te wend.
Mnr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, het die arbeidshof se besluit verwelkom. “Die uitspraak van ’n hoër hof sal vir selfs groter regsekerheid oor die toepassing van regstellende aksie sorg,” het hy gesê. “Die ideaal sal uiteindelik wees dat ’n grondwetlike uitspraak in dié verband gelewer word.
“Die uitspraak is wel teleurstellend vir Barnard, aangesien dit nou nog langer gaan neem voor geregtigheid vir haar sal kan geskied.”
Hermann reken die arbeidsappèlhof se besluit kan, indien in hul guns, ’n “regspresedent skep” en só tot voordeel wees vir alle Suid-Afrikaners wat deur die onbillike toepassing van regstellende aksie benadeel word.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment