Monday, May 3, 2010

‘Staat sny boere keelaf'











‘Staat sny boere keelaf'




2010-05-03 01:31

Charles Smith
In ’n poging om die verbruiker goedkoper brood te gee, word die Suid-Afrikaanse koringboer wat die brood lewer deur die staat keelaf gesny.
Dit is die reaksie uit landboukringe oor die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie van Suid-Afrika (Itac) se “teleurstellende” invoertarief op koring wat pas aangekondig is.
Die tarief van 14,07c/kg is die naweek in werking gestel. ’n Nuwe beskermingsvlak van $215 per ton koring en koringmeel is ook ingestel.
Al is dit heelwat hoër as die vorige beskermingsvlak ($157 per ton), is dit nie die $260 per ton wat Graan SA gevra het nie.
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê die invoertarief op koring en koringmeel is in vele opsigte teleurstellend.
Graan SA beskou die aankondiging van die tarief allermins as ’n begunstiging, want dit is “onnodig ter wille van die verbruiker en laat die produsente weer eens weerloos”, lui sy verklaring.
Die impak van die tarief sal as ’n saak van dringendheid met me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bespreek word.
Ferreira sê alle aanduidings is daar dat Suid-Afrika sy vermoë om koring vir eie verbruik te produseer, verloor en dat dié vermoë steeds krimp. Die doel is om invoervervangende strategieë te ontwikkel en in hierdie verband sou ’n tydige en beduidende tarief op invoer die nodige katalisator wees.
Hy sê in geen opsig is daar voldoen aan wat Graan SA as minimum vereistes ten opsigte van die invoertarief gestel het nie.
Hy sê die jongste berekenings van die produsente-aandeel in witbrood dui daarop dat produsente minder per brood kry as die BTW wat die staat ontvang.
Dieselfde faktore wat pryse enkele jare gelede skerp opwaarts gedruk het, kan ook in die nabye toekoms herhaal word.
Die Suid-Afrikaanse regering het klaarblyklik vergeet wat die impak was van onvoldoende aanbod met skerp stygende verbruikerspryse.
Niks in die nuwe tariefstruktuur gee erkenning aan hierdie dreigende gevaar nie.
Ferreira sê ook dit is gewoon onaanvaarbaar dat dit vir die staat sedert Oktober 2009 nie moontlik was om ’n besluit vinniger te neem nie.
Die onbuigbaarheid van hierdie besluitnemingsproses laat produsente in ’n baie moeilike posisie. Daar was ’n redelike verwagting dat met ’n meer tydige aankondiging, produksiebesluite beter gerig kon word.
Met minder as ’n halwe maand oor voordat optimum plantdatums verby is, grens die vertraagde aankondiging aan obstruksie en is dit teen die gees van goeie samewerking, sê Ferreira.
Mnr. Siyabulela Tsengiwe, hoofkommissaris van Itac, het gesê die kommissie kon nie Graan SA se hele versoek goedkeur nie.
Dit sou gelei het tot ’n onmiddellike styging in die tarief tot 47c/kg, wat gelykstaande is aan 33% ad valorem met ’n onvermydelike styging in die prys van brood.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment