Thursday, April 29, 2010

2 Vry oor Polisiefout

2 vry oor polisiefout

2010-04-29 00:06

Vermoor: Mnr. Willie Pienaar

Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's

Virginia Keppler

Twee mans wat aangekeer is kort nadat hulle ’n man van Kwaggasrand in Pretoria glo doodgeskiet en beroof het, is vrygelaat omdat die polisie hulle nooit aangekla het nie.

Die polisie het ook tot gister nie die beeldmateriaal van die toneel waar mnr. Willie Pienaar (24) op 10 April vermoor is by ’n kafee-eienaar voor wie se onderneming dit gebeur het, gaan haal nie.

Daarop sien ’n mens hoe die vermeende moordenaars aangestap kom en hoe een van hulle vinnig met ’n vuurwapen om Pienaar se motor loop.

Twee kinders is ook te sien wat die moord gesien gebeur het toe hulle uit die kafee kom.

Die polisie het dié beeldmateriaal eers gister, nadat Beeld en AfriForum begin navraag doen het, gaan afhaal.

Boonop het die ondersoekbeampte spoorloos verdwyn en is die polisie op soek na hom.

Mnr. Nantes Kelder, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê Pienaar se suster, me. Yolandie Pienaar, het hulle genader om met die ondersoek te help.

Drie mans het mnr. Pienaar op 10 April by die Kwaggasrand-winkelsentrum voor die kafee in sy voertuig aangeval kort nadat hy geld by ’n Absa-kitsbank getrek het.

Sy suster het kort ná sy moord gesê hy het pas in sy motor geklim toe een van die aanvallers hom om die nek gegryp en in die kop geskiet het.

Die aanvallers het sy lyk daarna uit sy voertuig gegooi, dit deurgesoek en sy motorsleutels, selfoon en beursie geroof voordat hulle probeer vlug het.

Gemeenskapslede het die verdagtes, onderskeidelik 27, 28 en 30 jaar oud, kort daarna aangekeer en erg aangerand.

Insp. Daniël Mavimbela, polisiewoordvoerder, het ná die voorval gesê die 30-jarige verdagte is dood en dat die polisie op ’n vuurwapen en patrone beslag gelê het.

Volgens ’n bron het die ondersoekbeampte in die saak egter nooit die verdagtes aangekla nie en die dag toe hulle in die hof verskyn, was ’n dossier nog nie aangelê nie.

“Die saak is toe summier uit die hof gegooi en die verdagtes het losgekom.”

Volgens die bron het die ondersoekbeampte spoorloos verdwyn.

Hy het bygevoeg een van die verdagtes is na bewering die seun van ’n beampte in die departement van korrektiewe dienste.

Kapt. Dumisani Ndlazi, polisiewoordvoerder, het bevestig die ondersoekbeampte het versuim om die verdagtes aan te kla en hulle is vrygelaat.

Hy het ook bevestig die beampte het verdwyn en die polisie is op soek na hom.

“Die polisie ondersoek intussen ’n saak van wangedrag teen die ondersoekbeampte.”

Die polisie is ook opnuut op soek na die vermeende moordenaars en hoop om hulle gou weer agter tralies te hê, het Ndlazi gesê.

Me. Pienaar het gesê haar familie is erg ontsteld oor die verwikkelings.

Volgens Kelder is dit ’n skande dat moordenaars as gevolg van die polisie se nalatigheid weer op straat is.

“Ons beskou hierdie optrede van die polisie in ’n baie ernstige lig. Ons gaan vir seker ’n klag by die onafhanklike klagtedirektoraat (OKD) indien om die saak ook van hul kant af te ondersoek.”

2 comments:

  1. Noem julle die' polisie optrede?

    Dit is duidelik op watter kant die polisie is!

    ReplyDelete
  2. KLA DIE POLISIE MANNE WAT HUL PLIG VERSUIM HET AAN EN OOK HULLE BEVELVOERDER VIR SY PLIGSVERSUIM OM SY WERK NA BEHORE TE DOEN

    ReplyDelete