Wednesday, April 14, 2010

Waar die wet tekortskiet













Waar die wet tekortskiet

2010-04-13 23:11

Genl. Bheki Cele, polisiehoof

Foto: Theana Calitz
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Johan Burger
Die soms emosionele uitsprake van politieke en ander leiers dat polisielede “moet skiet om dood te skiet”, is moontlik bedoel om die publiek en polisielede te verseker dat die regering nie “sag” is in die stryd teen misdaad nie. Maar dit vererger eintlik net die verwarring oor wanneer geskiet mag word, skryf Johan Burger.Minder ervare polisielede, roekelose polisielede of Jan en alleman kan sulke uitlatings byvoorbeeld interpreteer as regverdiging dat ’n verdagte móét sterf of moontlik dat “dodelike geweld” geregverdig is in omstandighede waar dit nie is nie.Dit is daarom noodsaaklik dat die nodige wetswysigings aan die veelbesproke artikel 49 van die Strafproseswet so spoedig moontlik afgehandel word.Dit moet gedoen word om regsekerheid te skep vir die polisie, politieke leiers en gewone mense.Druk werk word agter die skerms gedoen om die wysigings af te handel, blykbaar om polisielede meer skietmagte te gee.Twee kernkwessies moet getakel word. Een is die nodigheid vir wetswysigings en die ander is die houdbaarheid van uitsprake van leiers soos genl. Bheki Cele, polisiehoof, van “skiet om dood te skiet”. ‘Dodelike geweld’Artikel 49 bepaal die vereistes waaraan ’n “arresteerder” moet voldoen indien “dodelike geweld” tydens arrestasie nodig geag word.’n Arresteerder in hierdie geval is enig­iemand, ook ’n lid van die publiek (’n private persoon) wat ingevolge die Strafproseswet gemagtig is om iemand in bepaalde gevalle te arresteer.Dodelike geweld is tans opsommenderwys slegs op drie gronde geregverdig:
om jou te beskerm teen “onmiddellike of toekomstige” geweld;
waar daar ’n “wesentlike risiko” van geweld is as die arrestasie uitgestel word;
waar die geweldmisdaad “reeds aan die gang is”. Met ander woorde, dodelike geweld sal nie geregverdig wees waar die verdagte ontsnap en die bogenoemde gronde afwesig is nie. Hierin lê duidelik minstens twee probleme opgesluit:
ten eerste die vertolking van bogenoemde deur dikwels onervare polisie­lede en die publiek; en
ten tweede die afwesigheid van ’n bepaling dat dodelike geweld ook gebruik sou kon word om te arresteer waar daar nie meer ’n bedreiging is nie, maar reeds vroeër ’n ernstige geweldmisdaad soos moord, verkragting of gewapende roof gepleeg is.Dit is insiggewend dat die konstitusionele hof reeds in 2002, in die nou bekende Walters-saak, opgemerk het dat dit aanvaarbaar sou wees om dodelike geweld te gebruik wanneer daar redelike gronde is om te glo dat ’n misdaad wat geweld of ’n dreigement van geweld insluit, reeds gepleeg is (dus, verlede tyd) en daar geen ander redelike manier is om die arrestasie uit te voer nie.Hierdie deel van die uitspraak is in ooreenstemming met ’n soortgelyke uitspraak in die Amerikaanse hoërhof in Tennessee vs. Garner (1985), waar die polisie ’n ongewapende, vlugtende inbreker doodgeskiet het.Om die een of ander duistere rede is hierdie bykomende grond vir die gebruik van dodelike geweld nie in die konsepwysigingswet van 1998, waardeur artikel 49 tot sy huidige vorm gewysig is, opgeneem voordat dit in 2003 deur die president onderteken is nie.Dit wil voorkom of dit presies is wat die polisie nou wil doen.VereenvoudigingBenewens die invoeging van ’n vierde grond vir die aanwending van dodelike geweld, sal die polisie waarskynlik ook wil hê dat artikel 49 vereenvoudig moet word om moontlike dubbelsinnighede en onduidelikhede uit te skakel. In dié verband is daar ’n aantal probleemgebiede, maar dit is veral die afwesigheid van omskrywings vir begrippe soos “dodelike geweld” en “redelike gronde” wat opval.Albei begrippe is van wesentlike belang vir die doeltreffende werking van artikel 49, maar nêrens in die bestaande artikel word dit omskryf nie. In die Walters-saak word verwys na die “skiet” op ’n verdagte en die algemene opvatting blyk te wees dat dodelike geweld beperk is tot die gebruik van vuurwapens. Dié probleem het ook in Tennessee vs. Garner gelei tot kritiek in die minderheidsuitspraak in daardie hof dat daar geen riglyne aan die polisie gegee is met betrekking tot watter voorwerpe (van messe tot bofbalkolwe en selfs tou) die gebruik van dodelike geweld sou regverdig nie.Hieruit kan die afleiding gemaak word dat, benewens vuurwapens, ook enige ander voorwerp wat met dodelike gevolge aangewend sou kon word vir die doel van dodelike geweld aanvaarbaar behoort te wees, mits die geweld aangewend word onder omstandighede wat deur hierdie wet gereël word.’n Mens sou ook wou sien dat ’n wysiging dit duidelik maak dat selfs wanneer dodelike geweld aangewend word onder omstandighede waar dit geregverdig is, dit onmiddellik gestaak moet word sodra dit duidelik is dat die verdagte nie meer ’n bedreiging is of in staat is om te ontsnap nie.‘Redelike gronde’Die begrip “redelike gronde” is reeds goed gevestig in ons reg, maar dit beteken nie vanselfsprekend dat die gemiddelde polisiebeampte en publiek dit ewe goed verstaan nie. Nogtans bepaal artikel 49 dat ’n arresteerder dodelike geweld kan gebruik wanneer hy/sy op redelike gronde vermoed dat enige van die bogenoemde gronde aanwesig is. Die afwesigheid van ’n duidelike omskrywing van of duidelike riglyne vir die polisie ten opsigte van redelike gronde is ook in die minderheidsuitspraak in Tennessee vs. Garner uitgelig. In nog ’n bekende saak het die Britse hoërhof in Shabaan Bin Hussein vs. Chong Fook Kam (1969) beslis dat agterdog wat gegrond is op instink, raaiwerk of bespiegeling nog nie redelike gronde uitmaak nie.Redelike gronde, aldus die hof, is dus meer as blote agterdog en berus op gronde wat agterna verduidelik kan word en wat aan die vereistes vir redelikheid moet kan voldoen.
Dr. Burger is ’n senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudie in Pretoria.

1 comment: