Wednesday, April 7, 2010

Boer van Zastron nuwe leier van AWB


Boer van Zastron nuwe leier van AWB

2010-04-07 00:18
Nicolize van der Walt
Ventersdorp. – Die man wat mnr. Eugene Terre’Blanche se skoene voortaan as leier van die AWB sal moet volstaan, is gister hier aangewys.
Mnr. Steyn von Ronge, ’n Vrystaatse boer uit die Zastron-omgewing wat reeds 20 jaar ’n lid van die AWB is, het amptelik die leisels oorgeneem. Dit kom ná ’n uitvoerende bestuursvergadering van die beweging.
Von Ronge het in ’n kort verklaring weer gesê die AWB sal nie verantwoordelikheid aanvaar vir “individuele vergeldingsaksies” nie. Hy het egter vinnig bygevoeg dat moorde op wit boere nie langer geduld sal word nie.
“Genoeg is genoeg. Ons is besig om nog veiligheidsplanne, binne die raamwerk van wetgewing, tot stand te bring. Ons kan egter nie die plan bekend maak nie,’’ het Von Ronge gesê.
Volgens Von Ronge is hulle tot dusver tevrede met die verloop van die regsproses ten opsigte van die vervolging van Terre’Blanche se vermeende moordenaars.
“Ons respekteer die landswette en glo en vertrou dit sal ’n regverdige proses wees. Ons is ook baie tevrede met ons lede se gedrag en optrede by die hof vandag.”
Hoewel die AWB weier om ledegetalle bekend te maak het Von Ronge bevestig dat nuwe aansoeke tot lidmaatskap “met duisende” toegeneem het.
- Volksblad
---------------------------------------------------------------------------------
Terre’Blanche was steeds bitter, maar daardie vuur was weg ...
deur Sarie van Niekerk van Brakpan
2010-04-05 22:28
Ek het sedert die wreedaardige moord op mnr. Eugène Terre’Blanche elke stukkie nuus met belangstelling dopgehou en soos die verhaal ontvou het, het die skok al hoe groter geword.As afgetrede Beeld-joernalis bring dit vir my baie herinneringe terug – sommige goed en ander nie so goed nie.Dit is algemene kennis dat hierdie strydros vir wit regte geen tyd vir Beeld en sy verslaggewers gehad het nie. Ek is ook een van Beeld se joernaliste wat al deur Terre’Blanche uit ’n AWB-vergadering gejaag is bloot omdat ek vir Beeld gewerk het.Jare gelede het Terre’Blanche in Boksburg ’n vergadering gehou. Daar was spanning in die atmosfeer en die polisie het buite om die saal saamgetrek. Hy het gepraat soos nog nooit voorheen nie. Voor in die saal was die mediatafel ingerig. Skielik het iemand op die verhoog gestap en iets in Terre’Blanche se oor gefluister wat hom dadelik laat ophou praat het.Hy het gesê: “Ek het pas verneem dat Sarie van Niekerk van Beeld by die mediatafel sit. Sal sy asseblief opstaan en die saal verlaat? Ek soek Beeld nie hier nie, want Beeld is besig om Afrikaners uit te verkoop.” Ook maar te bly om van die vergadering weg te kom – want ek was allesbehalwe ’n ondersteuner van die AWB se standpunte – het ek my goed gevat en begin stap. Die res van die media-afvaardiging het toe soos een man opgestaan en agter my aangestap. Terre’Blanche en sy mense het hulle vergeefs probeer terugroep.Later jare, op die dag met die ondertekening van die vredesooreenkoms by die destydse Wêreldhandelsentrum in Kempton Park het ek weer besef watter invloed Terre’Blanche op sy ondersteuners het. Toe ek daar aankom, het die duisende regses wat daar saamgetrek was ’n Beeld-plakkertjie op my motor gesien en probeer om my motor om te gooi. Gelukkig kon ek darem deur die skare na veiligheid ry.Maar toe die regses daardie einste dag met ’n pantservoertuig deur die reuse-glasdeure van die sentrum gebars het, het ek enkele meter van die deur gestaan. Van die glasstukkies het op my gespat. Langs my het genl. Constand Viljoen gestaan. Al wat hy kon doen, was om sy kop te laat sak en te prewel: “My God, wat doen hulle?”Toe ek op 14 Februarie 2006 my laaste onderhoud met Terre’Blanche gevoer het, was dit ’n ander mens wat in sy huis in Ventersdorp gesels het. Bitter was hy steeds, maar daardie vuur van die 1990’s was weg. Daardie dag het hy gesê hy is klaar met politiek, maar dat hy steeds ’n kampvegter vir Afrikaans en die wit mens sal bly. “Niemand gaan Eugène Terre’Blanche en dit waarvoor hy staan, onderkry nie,” het hy gesê.Rus in vrede, Eugène. Martie, aan jou en Bea, mag God julle bewaar en vertroosting gee in hierdie tyd.

No comments:

Post a Comment