Wednesday, April 7, 2010

Misdaadstatistieke betwyfel




Misdaadstatistieke betwyfel
2010-04-07 22:13
Virginia Keppler
Die polisie se geweldmisdaadstatistieke kan nie gebruik word as ’n aanwyser in die bepaling van die tendens van geweldmisdade nie.So reken mnr. David Bruce, senior navorser van die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening. Hy bevraagteken die statistieke oor poging tot moord, aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede en roof.Uit ’n studie wat Bruce gedoen het, blyk ’n patroon het die laaste vyf jaar ontwikkel waar geweldmisdaad by ’n groot aantal ongeïdentifiseerde polisiekantore in die land nie op rekord geplaas is nie.Volgens hom het mediaberigte oor polisiekantore wat hul misdaadstatistieke manipuleer sodat dit moet lyk of hulle goed presteer net die oortjies van die seekoei geword. Bruce het in sy studie gefokus op die tendense van vyf soorte geweldmisdaad vir die tydperk 2003–’04 tot 2008–’09. “Die vyf kategorieë wat afgeneem het, is poging tot moord (39%), ernstige aanranding (22%), aanranding (31%), roof (38%) en roof met verswarende omstandighede (9%). “Onder roof met verswarende omstandighede is daar sewe ander subkategorieë,” het Bruce gister by die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) in Pretoria gesê. Volgens hom sluit dié studie nie verkragting en seksuele oortredings in nie omdat die definisie van hoe dié misdaad aangemeld word in 2008 verander het en dit dus nie met die statistieke van die verlede vergelyk kan word nie.Bruce het gesê daar is ’n vreemde teenstrydigheid wat die afname van moord (8%) en poging tot moord (39%) betref, as-ook die ander bogenoemde kategorieë.“Daar is ook botsende tendense in die sewe subkategorieë van roof verswarend. “Dit is ook vreemd dat ernstige aanranding so vinnig met 22% afgeneem het, maar nie ’n drastiese impak op die moordtendens het nie.“Ernstige aanranding en roof verswarend is die hoofdrywers agter moord. “Volgens die polisie se statistieke het dié misdade betreklik stabiel gebly as die hoofoorsake van moord.”Bruce meen moord moes ná vyf jaar met tussen 21% en 9% afgeneem het.“Dit is vreemd dat aanranding gewoon teen ’n vinniger spoed as ernstige aanranding gedaal het, veral omdat aanranding gewoon baie algemeen is.”Luidens die ISS se jongste misdaadverslag word misdaadstatistieke steeds as ’n maatstaf van die polisie se prestasie gebruik, pleks van die uitdagings waarmee die polisie daagliks te doen kry.Luidens die verslag word 80% van die stasiebevelvoerders se persoonlike prestasie gemeet aan die polisiekantoor se reaksietyd, inhegtenisnemings en sake wat hof toe gaan.In sulke gevalle kan die bestuur van die polisiekantoor beweer hulle het misdaad afgebring, maar deur nie alle misdaad op rekord te plaas nie belemmer hulle die regering se bekwaamheid om probleme te identifiseer en oplossings te vind.Bruce het gesê die regering moet die integriteit van die proses van hoe misdaad op rekord geplaas word herstel en ’n beleid instel om geweldmisdaad hok te slaan.Mnr. Themba Masuku, navorsingsbestuurder by die Community Agency for Social Enquiry, het gesê die feit dat die gemeenskap nie toegang tot misdaadstatistieke by die polisiekantore het nie, skep reeds ’n negatiewe indruk.

No comments:

Post a Comment