Thursday, April 8, 2010

Daar kry Bfn toe sy eie Groot Gat!


Daar kry Bfn toe sy eie Groot Gat!

2010-04-08 01:18

Mnr. Martin Pretorius ontspan ’n bietjie met sy voete in die reuse-gat. Nuuskieriges het gister rondom die gat saamgedrom en selfoonfoto’s geneem. FOTO: EMILE HENDRICKS
Foto's · Lesersfoto’s · Volksblad in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Earl Coetzee
“Nou het Bloemfontein sy eie Groot Gat.”
Dit was gister een van die opmerkings oor ’n reuse-gat op die hoek van Zastron- en Wes-Burgerstraat. Die gat, van omtrent twee meter lank en twee meter wyd, het gister omstreeks 12:00 verskyn nadat die water uit ’n gebarste pyp vermoedelik maande lank die grond onder die teer weggespoel het.
Die gat was gevul met borrelende, vinnig vloeiende water, wat ’n omstander laat opmerk het: “Dit lyk soos ’n jacuzzi in die middel van die pad.”
Nuuskieriges het gistermiddag om die gat saamgedrom om foto’s van die vreemde verskynsel te neem, terwyl motoriste ’n sug van verligting geslaak het dat hulle nie in die gat beland het nie.
Mnr. Gabriel Appelo sê hy was op pad werk toe, toe hy sien hoe ’n silwer Toyota Camry voor hom se wiel skielik ’n bietjie in die teer wegsak. Hy het ’n bietjie verder in die straat gaan stop en teruggestap na die plek waar dit gebeur het en die gat, ongeveer “so groot soos ’n kosbord”, gesien.
Terwyl hy probeer het om die verkeer rondom die gat te herlei, het ’n Corsa-bakkie glo oor die klein gat gery en dit het meegegee. Gelukkig het die bakkie nie in die gat beland nie.
Verkeersbeamptes het glo kort hierna op die toneel aangekom en kegels gebruik om die verkeer van die gat af weg te hou.
Werkers van die munisipaliteit was gou op die toneel en het onmiddellik begin om die water uit die gat te pomp. Watertoevoer na verskeie geboue in die middestad is afgesny sodat geen verder water in die gat opdam nie.
Mnr. Qondile Khedama, munisipale woordvoerder, sê dit is nie moontlik om te sê hoe lank dit sal neem om die gat te herstel nie.
Volgens ’n munisipale werknemer op die toneel moet hulle nou eers uitvind presies waar die pyp met ’n deursnee van 375?mm gebars het en dit herstel voordat herstelwerk aan die straat kan voortgaan. Hierna sal hulle die gat met grond vul. Dan moet gewag word dat dit sak en droog word voordat die straat weer geteer kan word.
Die werker sê volgens alle aanduidings moes die water maande lank reeds uit die pyp gelek het en die grond weggespoel het om so ’n groot gat te kon vorm.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment