Thursday, April 8, 2010

Gewonde rower sterf in hospitaal




Gewonde rower sterf in hospitaal


2010-04-08 00:55
Tom de Wet
WELKOM. – Een van die gewonde rowers wat Dinsdagmiddag by die Pink Palace-winkelsentrum ná ’n rooftog by die supermark en poskantoor in hegtenis geneem is, is in die Bongani-hospitaal dood.
Die tweede man wat in die rooftog gewond is, is intussen uit die hospitaal ontslaan en sal vandag saam met die ander twee wat in hegtenis geneem is in die hof verskyn.
Gerugte dat dié man gisteroggend by die hospitaal probeer ontsnap het, is deur kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder ontken.
Ses gewapende mans het met ’n motor, wat verlede week by ’n dokter se spreekkamer in die woonbuurt Riebeeckstad gesteel is, by die winkelsentrum aangekom en die Continental-supermark ingestap.
Daar het hulle vuurwapens uitgeruk en geld geëis by personeel van die supermark en die takposkantoor in die supermark.
Zurika Labuschagne (12), wat in haar ouers se drankwinkel langsaan was, het die rowers gesien en haar ma gewaarsku.
Mev. Meisie Labuschagne het Shepherd Alarms gekontak en mnr. Jan Engelbrecht was baie vinnig op die toneel. Nog voordat al die rowers met hul buit uit die supermark kon kom, het die eerste skote geklap.
Die een wat nou dood is, is in die supermark in die bors en voorarm geskiet en die tweede een buite op die sypaadjie. Twee ander wat in die veld oorkant die sentrum probeer wegkruip het, is in hegtenis geneem.
Nog twee van die mans, wat ook met ’n rooftog Dinsdagoggend op Odendaalsrus en ’n rooftog vroeër by die Goldfields Casino verbind word, word deur die polisie gesoek.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment