Tuesday, April 6, 2010

‘MK-veterane, ANCJL sal nie hofbevele gehoorsaam’






















‘MK-veterane, ANCJL sal nie hofbevele gehoorsaam’






2010-04-06 00:52
Dr. Molefi Sefularo
KAAPSTAD. – Die MK-veteranevereniging en die ANC-jeugliga weier om die uitsprake en hofbevele van “apartheidsregters” te aanvaar.
Mnr. Kebby Maphatsoe, nasionale voorsitter van die MK-veteranevereniging, het gister in ’n skreiende aanval op die regbank gesê regters wat struggle-liedere verbied, “wil apartheid terugbring”.
Ook mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, het Saterdag vanuit Zimbabwe aan SAUK-nuus gesê die hofbevel wat hom verbied om “Kill the Boer” te sing, is toegestaan deur ’n “ongetransformeerde regstelsel, dieselfde een wat tydens apartheid gefunksioneer het”.
“Die vryheidstryd het dit (die regbank) oorwin,” het Malema verklaar nadat hy die lied in weerwil van regter Eberhard Bertelsmann se hofbevel weer in Harare gesing het.
Die MK-veterane het gister prontuit gesê hulle weier om die tussentydse hofbevel te aanvaar.
“Daar is g’n manier dat ons sal ophou om die lied te sing nie. Die regter (Bertelsmann) is oningelig. Dis mense wat in apartheidswette geskool is en al vir 40 jaar daar sit en nie besef dinge het verander nie (wat sulke hofbevele toestaan),” het Maphatsoe gesê.
Die MK-veterane is daarvan oortuig dat regters wat nie die geskiedenis van die ANC en die gewapende stryd verstaan nie, nie by magte is om ’n uitspraak te gee oor kwessies wat hul erfenis ten nouste raak nie.
Volgens Maphatsoe is dit nie net wit regters wat ’n wanbegrip toon nie. “Selfs ’n swart man kan só ’n hofbevel gee.”
Die MK-veteranevereniging gaan steun onder ANC-takke werf om die transformasie van die regbank op die agenda te plaas in aanloop tot die regerende party se belangrike nasionale algemene raadsvergadering in September.
Intussen trek die regerende party steeds laer om sy omstrede jeugleier wat gisteraand in Johannesburg sou aankom nadat hy vroeër die dag met pres. Robert Mugabe vergader het.
Volgens mnr. Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, word Malema se lewe in gevaar gestel deur mense wat die “Kill the Boer”-lied verbind met die grusame moord op mnr. Eugène Terre’Blanche, AWB-leier.
Mthembu het die AWB, VF+ en AfriForum gistermiddag laat in ’n verklaring uitgesonder en daarvan beskuldig dat hul uitsprake “opruiend” is en rasseverdeeldheid in ’n “emosiebelaaide tyd” aanhits.
“Enige aantyging dat swartes van plan is om enige ander rassegroepe – in besonder ons wit landsburgers – leed aan te doen, is totaal ongegrond en van alle waarheid ontbloot.”
AfriForum-Jeug se nasionale voorsitter, mnr. Ernst Roets, het egter teruggekap en gesê as Malema se lewe in gevaar is, “is dit sy eie skuld”.
“Hoe meer rassekonflik hy aanmoedig, hoe meer vyande maak hy. As die ANC-jeugliga werklik vir Malema wil beskerm, moet hulle hom verbied om verdere rassistiese uitsprake te maak.”
Dié organisasie het die polisie amptelik versoek om vas te stel of die verdagtes wat vir Terre’Blanche se moord in hegtenis geneem is, enige bande met die jeugliga het.
Die ANC het Suid-Afrikaners weer tot kalmte gemaan en gevra om die AWB-leier se dood met die nodige respek en deernis te hanteer.
“Ook ons (die ANC) sal regdeur ons organisasie alles in ons vermoë doen om te verseker dat daar kalmte voor, tydens en ná mnr. Terre’Blanche se begrafnis is,” het Mthembu gesê.
Terre’Blanche word Vrydag begrawe.
Die ANC-jeugliga kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.
- Volksblad
-------------------------------------------------------------------
Hy oortree bevel, al sing hy in Zim, sê regslui2010-04-05 22:33

Verwante skakels
‘Apartheidsregters het liedjie verbied’
Lekota sê daar is nie plek vir dié liedjies
Lizel Steenkamp
Kaapstad. – Top-regslui betwis mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, se verklaring dat ’n hofbevel wat hom verbied om “Shoot the Boer” te sing nie in Zimbabwe geld nie.Regter Eberhard Bertelsmann van die hooggeregshof in Pretoria het Malema verlede Donderdag verbied om dié lied te sing of opruiende uitsprake te maak tot tyd en wyl die gelykheidshof uitspraak daaroor gelewer het.Een van die land se senior advokate het gister by navraag gesê Malema se aanname is “hoogs twyfelagtig”.“So ’n hofbevel is teen sy gedrag in die algemeen. Daar is ’n sterk argument dat wanneer hy terug in Suid-Afrika is dit wel beskou kan word as ’n verbreking van die hofbevel,” het ’n senior advokaat op voorwaarde van anonimiteit gesê.Ook prof. Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, meen as die hofbevel Malema spesifiek verbied om opruiende woorde te uiter, sy gedrag in Zimbabwe op minagting van die hof kan neerkom.Malema het “Shoot the Boer” gesing kort nadat die jeugliga Saterdag in Harare aangekom het.Mnr. Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, het gister gesê die organisasie gaan regsmenings inwin sodra hulle ’n afskrif van Bertelsmann se volledige hofbevel bekom het.“Ons argument is selfs al is jy in die buiteland, is daar nasionale media wat oor jou (optrede) rapporteer.”Mnr. Jackson Mthembu, die ANC se nasionale woordvoerder, het gister gesê hy weet nie of Malema dié omstrede lied in Harare gesing het nie. “Ek het nog nie met Julius gepraat nie.”Die jeugliga kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.
( Beeld )

No comments:

Post a Comment