Wednesday, April 7, 2010

"ANC -leiers kan vervolg word oor Terre' Blanche se dood"











‘ANC-leiers kan vervolg word oor Terre’Blanche se dood’




2010-04-07 00:54

Alet Rademeyer
Pretoria
Die senior ANC-leierskorps kan in verband met die moord op mnr. Eugène Terre’Blanche aangekla word.
Dít as bewys kan word die twee jong aangeklaagdes het opgetree onder wat hulle verstaan die onuitgesproke steun van die ANC is en as ’n verband gevind word tussen hul optrede en aanhitsing deur die ANC.
Mnr. Frans Cronjé, adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR), het gister in reaksie op Terre’Blanche se dood gesê sy familie en die AWB kan ook moontlik ’n siviele eis teen die ANC en die regering bring.
Hy het gesê rassespanning in die land het die afgelope weke merkbaar toegeneem, oënskynlik weens die ANC se aanhitsing om die Afrikaner- etniese minderheid te skiet en dood te maak.
Cronjé het gesê sedert 1994 is, konserwatief geskat, 1 000 wit boere vermoor. In dieselfde tyd is sowat 250 000 Suid-Afrikaners vermoor. “Strafbare geweld het algemeen geword en beduidende skade aan die sosiale bou van die land aangerig. Nietemin kan nie gesê word dat alle moorde in die land eenvoudige, misdadige struikrowery is nie.
“In ’n omgewing waar reg en orde grootliks in duie gestort het, moet die gevolge van opswepery deur politieke leiers om moord te pleeg ernstig bejeën word.”
Cronjé het verwys na die beleidsmaatreëls van die regering om lewenstandaarde van die swart meerderheid te verhoog, wat nie aan hul verwagtinge voldoen het nie.
“Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is deur die ANC uitgebuit om ’n netwerk te vorm wat elemente van sy leierskorps baie ryk gemaak het.
“Daarbenewens is die ANC onbevoeg om die mislukkings in die onderwysstelsel reg te stel wat nou die hooffaktor is wat ekonomiese vooruitgang van swart Suid-Afrikaners terughou.”
Cronjé het gesê in ’n poging om steun in die swart gemeenskap te kry, poog die ANC toenemend om die skuld vir sy mislukkings op die klein wit meerderheid te plaas, wat ver minder as 10% van die bevolking is.
“Hier kan parallelle gelees word in die gedrag van Zanu-PF in Zimbabwe toe dié party besef het sy politieke toekoms is in gevaar.”
Cronjé meen in sulke omstandighede kan aangeneem word die ANC se oproepe tot geweld kon tot Terre’Blanche se dood bygedra het. Dit is nie te sê dat ’n arbeidsgeskil of ander kwessie nie die spanning op Terre’Blanche se plaas kon laat ontvlam nie.
Cronjé meen dit is kommerwekkend dat senior polisiebestuurslede op rekord gesê het hulle sal nie ’n politieke of bevooroordeelde motief vir die moord op Terre’- Blanche oorweeg nie.
“Dit suggereer ’n voortydige poging deur die ANC om sy moontlike skuld aan aanhitsing tot die misdaad toe te smeer.”
- Die Burger

No comments:

Post a Comment