Tuesday, April 6, 2010

AWB "sal nie moord wreek "







AWB ‘sal nie moord wreek’



2010-04-06 00:20
Die plaashuis waar mnr. Eugene Terre’Blanche vermoor is.
Foto's · Lesersfoto’s · Volksblad in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Linda de Beer
VENTERSDORP. – Twee groot kolle op die houtbasis van mnr. Eugene Terre’Blanche se bed waar die bloed deur die beddegoed en matras gesyfer het, was gister nog sigbaar ná die grusame panga-moord op die regse leier.
Al wat van sy teenwoordigheid oorgebly het, is ’n leë velletjie Rennie-sooibrandtablette en ’n houer Coryx-bruistablette vir griep en verkoue.
In die kombuis het ’n vuil braaipan op die stoof gestaan.
Intussen het die AWB ’n radikale ommekeer van sy vroeëre standpunt gemaak en ’n “oorlogsverklaring” teen swart mense in Suid-Afrika teruggetrek.
Terre’Banche se dogter en enigste kind, me. Bea Terre’Blanche, het gister die plaashuis waar haar pa vermoor is, oopgemaak vir die media.
Volgens me. Terre’Blanche het haar pa nog nie die twee werkers wat van sy moord verdink word, vir Maart betaal nie.
Hy het volgens haar ’n reëling met hulle getref om hulle ná die lang naweek te betaal.
Haar pa en ma, Martie, het altyd die werkers se lone aan die einde van ’n maand bespreek.
Hulle is elke maand betaal, maar haar pa het met die Paasnaweek voorhande glo nie kans gehad om sy banksake betyds af te handel nie.
Terre’Blanche het ’n goeie verhouding met sy werkers gehad wat versterk is deur hul werk met die diere op die plaas, het sy dogter gesê.
Honderde AWB-ondersteuners het gisteroggend by Ventersdorp se trimpark bymekaargekom vir ’n vergadering waar die media verbied is.
Mnr. Pieter Steyn, AWB-kommandant van die Wes-Rand, het agterna gesê die organisasie se leiers het sy lede op die vergadering gevra om Terre’Blanche se moord nie met geweld te wreek, optogte te hou of rassistiese opmerkings te maak nie.
Steyn het gesê mnr. André Visagie, sekretaris-generaal van die AWB, se verklaring Sondag dat die organisasie hom gaan bewapen om Terre’Blanche se dood te wreek, is in die “hitte van die stryd” gedoen.
“Ons lede is emosioneel en baie kwaad. Ons het hulle tot orde, kalmte en selfbeheersing gemaan, maar dit raak toenemend moeilik. Ek weet nie wat sal gebeur as nóg ’n boer vermoor word nie,” het Steyn gesê.
Me. Terre’Blanche het gesê sy en haar ma is platgeslaan deur die moord op haar pa. Al is dit vir haar moeilik, het sy besluit om die huis oop te stel vir die media sodat die wêreld die werklikheid van plaasmoorde in Suid-Afrika kan sien.
Die twee verdagtes weens die moord sal vandag met geslote deure in die hof verskyn omdat die een glo minderjarig is.
Begrafnis op Ventersdorp
Mnr. Eugene Terre’Blanche sal Vrydag om 12:00 uit die AP kerk op Ventersdorp begrawe word. Hy sal op sy plaas, Witrandjiesfontein, buite Ventersdorp ter ruste gelê word.
Mnr. Steyn van Ronge, onderleier en voorsitter van die AWB, het gister dié reëlings aan Volksblad bekend gemaak.
“Geen seremonie sal by die begrafnis plaasvind nie en enigeen van die publiek kan dit bywoon.” – Gerda-Marié Viviers
- Volksblad
------------------------------------------------------------------------------------------
Minister sê ET se moord ‘sit Suid-Afrika 100 jaar terug’
2010-04-06 00:20

Liesl Peyper
OUDTSHOORN. – Die moord op mnr. Eugène Terre’Blanche, AWB-leier, sit Suid-Afrika 100 jaar terug. Só het me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, gister in ’n debat op die KKNK gesê.
Sy was een van drie deelnemers wat aan ’n bespreking oor voedselsekerheid deelgeneem het. Die gesprek het egter ook in die rigting van raskwessies, plaasmoorde en grondhervorming gestuur.
“Die afgelope twee weke was vir my ’n nagmerrie,” het Joemat-Pettersson met verwysing na wyle Terre’Blanche, asook die wrede moord op twee plaaswerkers, gesê.
“Hoeveel van julle het geweet van die moord op die plaaswerkers? Dit het nie so ’n opskudding hier veroorsaak nie, maar wel in die internasionale media wat die veiligheidsituasie in Suid-Afrika voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi fyn dophou.”
Sy het haar ontsteltenis uitgespreek oor die feit dat sy die AWB-vlag gisteroggend op TV op Terre’Blanche se plaas sien wapper het.
“Dit neem my 100 jaar terug. Al die goeie verhoudinge is daarmee heen. Maar ons kan nie die moord op Terre’Blanche voorhou as ’n regverdiging om rassisties te wees nie.”
Joemat-Pettersson het gesê die feit dat die leier van die ANC-jeugliga, mnr. Julius Malema, die lied “Maak dood die boere” sing, is nie die rede vir die moord op Terre’Blanche nie.
“Boere word lank reeds op hul plase aangeval.”
Sy het ook gewaarsku dat “radikale” in die land gaan opstaan. “Ek sê nie wat Malema doen, is reg nie, maar hy artikuleer wat miljoene swart Suid-Afrikaners voel. Daarom het hy so ’n sterk aanhang.”
Die media het ’n ikoon van me. Winnie Mandela gemaak, en as daar voortdurend gewag van Malema gemaak word, sal hy ook dié status bereik. “Julle maak hom groot en magtig. As ek ’n jong man soos hy was, sou ek ’n groot kop gekry het. Hy het nie perspektief op die goed wat hy sê nie.”
Joemat-Pettersson het ook nie gister geskroom om uit te vaar teen rassisme wat nog algemeen onder wit boere voorkom nie.
“U sal nie weet hoeveel wit boere minag my nie. Hulle behandel my soos ’n sekretaresse. Ek het my telefoonnommer uitgegee, maar daar word soveel haatboodskappe op my telefoon gelos.”
Daar is twee redes wat haar daarvan weerhou om rassisties te wees, het sy gesê. Enersyds is sy ’n wedergebore Christen en andersyds is haar oorlede man se kinders wit.
“Maar hulle is ook mý kinders.”
Joemat-Pettersson het gister erken dat die regering misluk het met grondhervorming. “Ons het honderde mense op een plaas laat boer. Ons was desperaat en blameer mekaar. Slegs ’n paar swart mense het voordeel uit bemagtiging getrek.”
Sy het beklemtoon dat groot ingrypings in die landboubedryf kom.
“Wette gaan definitief verander word, want ons huidige wette maak nie voorsiening vir grondhervorming nie.”
Intussen het die SAKP gister in ’n verklaring ’n spoedige oplossing vir landbou- en grondhervorming bepleit, asook ’n beraad vir plaaswerkers- en bewoners.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment