Tuesday, April 6, 2010

Terre’Blanche was plaasmoord nr. 3368




Terre’Blanche was plaasmoord nr. 3368


2010-04-05 23:56

Liesl Peyper
Kaapstad
Die moord op die AWB-leier, mnr. Eugène Terre’Blanche, het die getal moorde op boere én plaaswerkers sedert 1994 op altesaam 3 368 te staan gebring.
“Dit is meer as enige oorlog op die aangesig van hierdie aarde.”
Só het dr. Theo de Jager, visepresident van Agri SA, gister gesê gedurende ’n debat oor voedselsekerheid op die KKNK wat in Oudtshoorn plaasvind.
Hy en me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, asook mnr. Ismail Motala, van die Unie vir Suid-Afrikaanse Landbou, en ’n boer van Wolseley, het voedselsekerheid en hervormingskwessies in die landboubedryf gedebatteer.
“As gesinne saans om die etenstafel gaan sit, vra die vroue gewoonlik of dit nog die moeite werd is om aan te hou boer en of dit nie tyd geword het om dorp toe te trek nie,” het De Jager gesê met verwysing na boere se vrees om op hul plase aangeval te word.
De Jager het ook sterk reaksie van sy twee gespreksgenote ontlok toe hy gesê het dit neem ’n geslag om ’n goeie boer te word.
“Dit gebeur nie eensklaps nie. ’n Mens leer boer by jou oupa en jou pa.”
Motala het De Jager se stelling egter gekritiseer en gesê boerdery is ’n sakeonderneming en hy boer maar vir die afgelope sewe jaar.
Joemat-Pettersson het in haar repliek aan die einde van die debat gesê dit is wel so dat baie wit boere oor ’n tydperk van drie geslagte leer boer het en dat dit nie onmiddellik gedoen kan word nie.
“Maar die wit mense het ook gesê swartes kan nie die land regeer nie en ons doen dit al vir die afgelope 16 jaar en ons doen dit steeds – al is dit miskien nie soos u daarvan hou nie,” het Joemat-Pettersson gesê.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment