Wednesday, April 7, 2010

Byna R4 miljard aan munisipaliteite geskuld




Byna R4 miljard aan munisipaliteite geskuld


2010-04-07 00:18
Cathy Dlodlo
Die gesamentlike uitstaande skuld aan munisipaliteite in die Vrystaat vir dienste gelewer, beloop R3,98 miljard.
Mnr. Peter Frewen, DA-LPW, sê R2,620 miljard hiervan is al langer as drie maande uitstaande. Twee van die munisipaliteite, Mangaung en Matjhabeng, se skuld het reeds die miljardrand-kerf oorgesteek.
Drie munisipaliteite, Mohokare, Nala en Masilonyana, en twee distriksmunisipaliteite, Thabo Mofutsanyane en Xhariep, is onder administrasie.
Mnr. Abrie Oosthuizen, LPW en provinsiale leier van die VF+, sê die uitstaande skuld laat munisipaliteite se finansiële state positief lyk wanneer dit as potensiële inkomste aangedui word.
Hy sê die probleem is die meeste van die skuld is ouer as 90 dae, maar munisipale bestuurders word vir die “positiewe state” vergoed met prestasie-bonusse. Dit, sê hy, vererger net munisipaliteite se finansiële verknorsing. Oosthuizen sê hoewel munisipaliteite jaarliks van dié skuld afskryf, bly die uitstaande bedrae hoog.
“In die gevalle waar sakeondernemings bankrot verklaar is of nie betyds ’n eis teen die boedel van ’n oorledene ingestel is nie, is dit beter om die skuld af te skryf.”
Oosthuizen sê daar is egter ’n geneigdheid om net voor die voet skuld af te skryf.
Frewen sê Matjhabeng het in die boekjaar 2009-’10 sowat R616 miljoen afgeskryf.
Oosthuizen sê uitstaande skuld bly groei, hoewel baie munisipaliteite maatskappye kontrakteer om uitstaande skuld in te vorder. “Die staande komitee vir openbare rekeninge van die provinsiale wetgewer moes egter ingryp toe hulle agterkom dat die Moqhaka-munisipaliteit, wat Kroonstad insluit, selfs 20%-kommissie betaal vir skuld wat net 30 dae uitstaande is.”
Oosthuizen sê dit is inkomste van gereelde betalers. “Hoe kan die invorderaars kommissie kry op geld wat in elk geval maandeliks aan die munisipaliteit betaal word?”
Nog ’n voorval het in die Matjhabeng-munisipaliteit voorgekom. Oosthuizen sê die voormalige munisipale bestuurder van dié munisipaliteit het ’n maatskappy aangestel om die skuld in te vorder. Hy self was egter ’n direkteur van dié maatskappy.
Frewen sê elke munisipaliteit het ’n beleid vir kredietbeheer, maar dit word weens politieke druk nie toegepas nie. Hy voorsien dat die situasie net gaan vererger met die munisipale verkiesing wat volgende jaar plaasvind.
Staatsdepartemente is vir groot gedeeltes van dié uitstaande dienstegeld verantwoordelik.
Mnr. Thabo Manyoni, waarnemende LUR vir openbare werke en plaaslike ontwikkeling in die Vrystaat, het in dié departement se begrotingsrede gesê hulle gee aandag aan die situasie. Daar is sowat R140 miljoen in die boekjaar 2010-’11 begroot om skuld aan munisipaliteite te vereffen. Manyoni sê een van die redes vir die departement se swak betaling is dat hulle dikwels foutiewe rekeninge kry. Dié departement is verantwoordelik vir die betaling van dienste wat by alle provinsiale regeringsgeboue in die provinsie gelewer word. “Om die probleem op te los, het die departement ’n plan uiteengesit waarby ons munisipaliteite gaan bystaan om te help met rekonsiliasie van staatsdepartemente se skuld.”
Nog ’n faktor wat bydra tot die groei van munisipaliteite se uitstaande skuld, is die weerhouding van dienstegeld.
Die minister van samewerkende regering, mnr. Sicelo Shiceka, het ook onlangs bekend gemaak dat meer as 280 organisasies landwyd dienstegeld wat munisipaliteite toekom, weerhou weens swak dienslewering. Hy het gedreig om dié organisasies hof toe te sleep indien samesprekings met hulle nie vrugte afwerp nie.
Lede van dié organisasies wat in altesaam 300 dorpe gestig is, betaal hul dienstegeld in trustrekenings in.
Die DA het besluit om die wetlikheid van dié situasie in die hof te toets.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment