Monday, April 5, 2010

Party heroorweeg dalk sy posisie in kabinet







Party heroorweeg dalk sy posisie in kabinet



2010-04-05 00:50
Philda Essop & Philda Essop
KAAPSTAD. – Die VF+ kan sy posisie in pres. Jacob Zuma se kabinet heroorweeg ná die ANC se besluit om te appelleer teen die hofbevel wat die gebruik van die omstrede lied Kill the Boerverbied.
Die ANC het besluit om mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, se reg om die lied Dubulu Ibhunu (skiet die boere) te sing in die hof te verdedig.
Die Suid-Gautengse hooggeregshof het verlede week bevind dit is onwettig en ongrondwetlik om dié frase te uiter of te publiseer.
Dr. Corné Mulder, VF+-hoofsweep, het gister gesê dié party glo Malema is buite orde. Daarom gaan hy voort met sy Stop Malema-veldtog. Volgens hom het dié Facebook-drukgroep teen Malema reeds tot 9000 lede gegroei.
“Dit is so dat die VF+ sy posisie in die kabinet kan heroorweeg. Dié kwessie word eerskomende Vrydag op die party se dagbestuurvergadering bespreek. Ons het van die begin gesê die party sal sy posisie van tyd tot tyd evalueer. Ons behou die reg om die ANC te kritiseer – ons is nie in die regerende party gekoöpteer nie.”
Mulder het gesê die VF+ kan nie stilsit terwyl sake vererger nie.
“Talle boere word vermoor. Natuurlik sal dit implikasies hê vir die party. Ons sal dit met die leier opneem.”
Mnr. Ishmael Mnisi, ’n ANC-woordvoerder, sê: “Ek dink nie ons is van plan om die verhouding (met die VF+) te heroorweeg nie.”
Intussen gaan die ANC hom ook tot die gelykheidshof wend in ’n poging om te bewys die VF+ se Stop Malema-veldtog en die Vervolg Malema-plakkate is haatspraak. Die ANC het verder sy skok uitgespreek oor SMS’e wat die ronde doen oor ’n beloning van R2miljoen vir iemand wat bereid is om Malema dood te maak.
Mnr. Jackson Mthembu, ’n ANC-woordvoerder, het gesê dreigemente teen Malema herinner aan dié deel van Suid-Afrika se geskiedenis toe regse groepe ’n aggressiewe propaganda-veldtog gevoer het teen individuele lede van die vryheidsbeweging.
Die ANC het gewaarsku dat die Stop Malema-veldtog deur sekere regse groepe gebruik kan word om ’n agenda te bevorder wat selfs die VF+ met weersin vervul. Cosatu het ook die verbod op die lied veroordeel, terwyl die SAKP die ANC se voorneme ondersteun om teen die “absurde hofbevinding” te appelleer.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment