Saturday, April 3, 2010

Kinderwet op kinderregte word van krag









Thinus Dippenaar
Kaapstad
Ná ’n gesloer van langer as 10 jaar het wetgewing wat spesifiek op kinders gemik is uiteindelik vandeesweek van krag geword.
Die inwerkingstelling Donderdag van die Kinderwet en die Wet op Kinderregte is goed ontvang deur organisasies wat hulle vir kinderregte beywer.
Daar is al in 1997 begin met die opstel van dié wette, het dr. Ann Skelton, direkteur van die Sentrum vir Kinderregte, gister gesê.
Hoewel Skelton by tye gefrustreerd was met die gesloer, glo sy die wetgewing is omvattend wat betref die versorging van kinders en die versekering van geregtigheid vir kinderoortreders.
“Die implementering van die Wet op Kinderregte is ’n historiese oomblik omdat kinders voorheen aan dieselfde regstelsel as volwassenes onderwerp was.”
Mnr. Patrick Solomons, direkteur van die kinderregtegroep Molo Songololo, het gesê hulle is verheug die “gate is uiteindelik gevul”.
“Die Kinderwet voorsien ons van ’n raamwerk en standaard om ons kinders te beskerm. Dit was ’n groot uitdaging, maar die wetgewing kan vir die volgende 50 jaar staan.”
Solomons is egter bekommerd dat die wetgewing nie voldoende toegepas sal word nie omdat daar ’n tekort aan maatskaplike werkers in veral arm gebiede is.
“Ons hoop die staat voeg die daad by die woord met die toepassing van die wetgewing,” het hy gesê.
Me. Samantha Waterhouse van die kinderregtegroep Rapcan het gesê hulle verwelkom die nuwe wetgewing.
“Dit het langer as 10 jaar geduur om die nuwe wetgewing vir implementering gereed te kry.
“Ons werk sal voortgaan, maar die implikasies van dié wetgewing is baie voordelig vir die kinders.”
- Die Burger

No comments:

Post a Comment