Saturday, April 3, 2010

Metrorail dagvaar vakbondleiers







Metrorail dagvaar vakbondleiers



2010-04-02 23:30

Thinus Dippenaar
Kaapstad
Metrorail gaan die leierskorps van die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu) verantwoordelik hou vir die skade van sowat R26 miljoen wat stakende werkers van dié vakbond na bewering aan Metrorail-eiendom aangerig het.
Metrorail het aangekondig hy gaan Satawu se leiers in hul amptelike en private hoedanigheid om skadevergoeding dagvaar.
Mnr. Evan Abrahamse, provinsiale sekretaris van Satawu, het gister bevestig hulle het reeds prokureursbriewe ontvang.
“Ons prokureurs gaan die geldigheid van die eis ondersoek.”
Intussen het Metrorial Donderdag ’n interdik gekry wat stakende werkers belet om hul kollegas te intimideer, die maatskappy se ­eiendom te beskadig en treine sonder geldige kaartjies te gebruik.
Mnr. Stephen Ngobeni, streekshoof van Metrorail, het gesê die stakende werkers, asook ander werkers wat daaraan skuldig bevind word dat hulle mense gehelp het om Metrorail-eiendom te beskadig, gaan afgedank word.
In die jongste voorvalle van vandalisme is ’n passasierswa by die Maitland-stasie en ’n kaartjieskantoor in Khayelitsha Donderdag aan die brand gesteek.
Die brand op die trein het na die twee aangrensende waens versprei.
Vroeër vandeesweek is twee passasierswaens by Nyanga-stasie aan die band gesteek.
Twee mense, ’n 15-jarige en ’n 23-jarige, is in verband met die brand by die kaartjieskantoor deur die polisie in hegtenis geneem.
Metrorail het by monde van sy woordvoerder, me. Riana Scott, gesê die skade aan die vyf waens sowel as die verlies aan inkomste beloop R26 miljoen.
’n Ruit van die kaartjieskantoor in Khayelitsha is gebreek en brandstof is met behulp van ’n waterpyp in die kantoor laat inloop, waarna ’n brandende vuurhoutjie in die kantoor gegooi het.
Die twee verdagtes sal ná die Paasnaweek op aanklagte van brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging in die landdroshof in Khayelitsha verskyn.
Ngobeni het Donderdag op ’n nuuskonferensie gesê Metrorail het die afgelope week die staking in oorleg met Satawu laat voortgaan, en dat die vandalisme hom noop om sterk op te tree en die staking te beëindig.
Abrahamse het gesê die staking sal voortduur tot onderhandelings plaasvind.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment