Thursday, April 1, 2010

Kopskoot eis boer: 2 gevang...Vaalwater











Kopskoot eis boer: 2 gevang




2010-04-01 11:19
André Damons




Nog twee mans is Maandag in Mamelodi in die ooste van Pretoria aangekeer weens aanvalle op boere en bejaardes in Limpopo. Mnre. Steven Sibeko (28) en Frans Monyamane (32) is deur die polisie se elite-misdaadeenheid, die Valke, in hegtenis geneem ná die skietdood van mnr. Albert van Deventer (63) op sy wildplaas Langwater naby Vaalwater. Die eenheid het met dié inhegtenisnemings tot dusver nou al 15 mans in verband met verskeie plaasmoorde sedert Desember verlede jaar in Limpopo in hegtenis geneem, het supt. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, gesê. Van Deventer is omstreeks 19:00 op 13 Maart na bewering deur Sibeko, Monyamane en ’n makker in die tuin oorval toe hy die waternatleiding gaan skuif het. Hy is op kort afstand in die gesig geskiet. Hy is vermoedelik op slag dood.Die aanvallers het daarna na die kombuis gehardloop waar mev. Van Deventer was. Hulle het haar vasgebind, geblinddoek en in die vertrek rondgesleep. Hulle het later haar klere uitgetrek. Sy het gevrees sy gaan verkrag word en het by die aanvallers gepleit om dit nie te doen nie. Die aanvallers het die kluissleutels en geld gevra. “Behalwe vir Sibeko en Monyamane is al die ander verdagtes (in die ander aanvalle) kort ná die aanvalle in hegtenis geneem,” het Otto gesê. Sibeko en Monyamane het reeds eergister op aanklagte van gewapende roof en moord in die Modimolle (Nylstroom)-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op 8 April

No comments:

Post a Comment