Tuesday, March 16, 2010

24 Taxibestuurders vas oor geweld


24 taxibestuurders vas oor geweld
2010-03-15 23:31


Beamptes van die Johannesburgse metropolisie en Suid-Afrikaanse polisiediens (Saps) deursoek ’n groep taxibestuurders. Foto: Felix Dlangamandla
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
André Damons en Carina van Wyk
Swaar gewapende polisiebeamptes het die Rea Vaya-snelbusdiens­roetes gister beveilig terwyl duisende pendelaars gister weer ander vervoerreëlings moes tref weens ’n protesstaking deur taxibestuurders oor die busdiens. Altesame 24 taxibestuurders is gearresteer weens openbare geweld nadat hulle paaie in Moroka, Soweto, met brandende motorbande en rotse versper het, het kapt. Mbulaheni ­Netshivhodza, polisiewoordvoerder, gesê. Polisiebeamptes in Ikwezi het rubberkoeëls gebruik om taxibestuurders uit mekaar te dryf. Spoorlyne in Soweto is met brandende bande en klippe versper omdat Metrorail sy dienste weens die taxi-staking uitgebrei het. Taxi-eienaars van veral die verenigde forum vir taxi­verenigings (Utaf) is ongelukkig oor die uitbreiding van die Rea Vaya-vervoerstelsel (BRT). Die stelsel het gister ’n bykomende 34 busse in werking gestel wat nou ook dieper in woongebiede inry. Die uitbreiding van die roete sluit in ’n nuwe diens tussen Dobsonville, Soweto, en die Johannesburgse middestad en die Ellispark-stasie en bykomende toevoerdiens-te van woonbuurte na die Tokoza Park-, Lake View- en Boomtown-stasies. Polisiebeamptes, metropolisie-beamptes, die Gautengse verkeerspolisie en die departement van gemeenskapsveiligheid het saam met die polisie se taakmag verskeie Rea Vaya-stasies en roetes gepatrolleer. Njalas van die polisie is ook gebruik. Mnr. Khabisi Mosunkutu, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, gesê hulle sal nie toelaat dat misdadigers die geleentheid kry om oor te neem nie. “Ons sal nie toelaat dat mense die BRT ontwrig nie. Daar was baie dreigemente teen die regering, die BRT en ander taxi-operateurs, maar ons sal nie toelaat dat hulle ons en die busdiens ondermyn nie,” het hy gesê.By die Breestraat-taxistaanplek het mense agterop bakkies en in motors geklim om tuis te kom. Me. Rehana Moosajee, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het gesê ’n groot stad soos Johannesburg “het ’n kombinasie van aanvullende vervoermodusse nodig – treine, snelbusse, taxi’s en private vervoer. Dit is die pendelaar se reg om te kies watter diens hy wil gebruik.” Mnr. Sibusiso Ngomane, Metrorail-woordvoerder, het gesê treinspore by die Merafe-stasie in Soweto is van omstreeks 03:30 met klippe en brandende bande versper en van die treine is met klippe gegooi. Mnr. Ralph Jones, Utaf-woordvoerder, kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.

No comments:

Post a Comment