Friday, March 19, 2010

O Gonna, dis dan 'n gogga !

O gonna, dis dan ’n gogga!

2010-03-19 01:13

Abrie Burger

LANGERIGE goggas met baie pote.

Dít is wat Smithfielders vandeesweek in hul water kry. As hulle water het.

Dié dorp is die jongste van baie Vrystaatse dorpe wat deur ’n waterkrisis geteister word.

Een inwoner het die lang gogga met baie pote in haar wasgoed ontdek.

Sy het dit aan mnr. Jurie Badenhorst gegee sodat hy dit kan toets. Dit is vermoedelik ’n oorkruiper.

Mev. Ounooi Badenhorst, ondervoorsitter van die Smithfield-inwonersforum (en Badenhorst se vrou), sê nóg ’n vrou het ook ’n gogga in die water gekry, maar die watertekort is ’n baie groter probleem as insekte in die water.

“Ons sit met ’n afgryslike gemors.”

Sy vertel dat die hospitaal en kliniek ook sonder water sit.

Mnr. Jimmy Gertenbach, DA-raadslid vir die Mohokare-munisipaliteit, sê hy was Dinsdag by die Caledon-rivier, waar water vir die dorp gepomp word.

Hy het ontdek dat daar niks gepomp word nie.

“Die rede is glo dat die suigpomp opdrifsels in die siffie opsuig. Ons het boggerol daar gesien. Ek is nou al keelvol van amptenare se gesukkel en gespartel.”

Gertenbach vertel dat hy al vier jaar lank ’n raadslid is en daar net een Kersfees was wat daar nie met water gesukkel is nie.

“Ek is nou moedeloos vir Smithfield se water.”

Gertenbach vermoed dat daar mense in die munisipaliteit is wat nie hul werk reg doen nie.

“Ek dink die probleem lê by die administrasie, of die pompmense.”

Volgens hom is ’n projek goedgekeur waar ’n bykomende pypleiding van die Caledon-rivier na die suiweringsprojek gelei gaan word. Hopelik sal dit help.

“Hulle is ook tans besig om die suiweringsaanleg by die gholfbaan groter te maak om meer water te suiwer.”

Die dam by Smithfield is nou heeltemal droog. Gertenbach meen dis dalk ’n goeie ding, omdat die water gestink het.

Die bestuurder van infrastruktuur van die Mohokare-munisipaliteit kon nie vir kommentaar bereik word nie.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment