Thursday, March 25, 2010

Bejaarde " net dankbaar sy is nie ook verkrag"


Bejaarde ‘net dankbaar sy is nie ook verkrag’

2010-03-25 01:08

Vicüs Bürger
“Ek is net bly hy het my nie verkrag nie,” sê mev. Hester Thomas (79) van Bloemfontein nadat haar aanvaller haar pimpel en pers geslaan, gewurg en boonop op haar getrap het.
Dit is die derde wrede aanval in minder as ’n week in Bloemfontein en omgewing waarin bejaardes wreed aangeval en beseer is.
Thomas is in die Pelonomi-hospitaal opgeneem.
Haar aanvaller het haar vermoedelik net vir kouevleis, kaas en kledingstukke “verniel”.
Thomas van Lilaclaan in Gardeniapark het Dinsdag die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gebel om wilde katte uit haar tuin te verwyder.
Die weduwee bly al twee jaar alleen in die huis.
Thomas het op die stoep gewag toe ’n lang man van tussen 25 en 30 jaar opdaag.
Hy het werk gesoek, maar Thomas het gesê sy kan hom nie help nie.
Die man het weggeloop, maar later teruggekom en vir geld gevra. Thomas het gesê sy het nie geld by haar nie.
Die man het haar toe aangeval en met ’n mes bokant haar linkeroog gesteek. Hy het ook haar gordel afgesny en dit gebruik om haar te wurg.
“Hy het my geslaan dat die bloed loop en om die huis gesleep,” sê sy.
Volgens haar het die aanvaller ook op haar bors getrap.
“Hy was sterk.”
Die man het die huis se sleutels wat aan ’n lint om haar nek was, gevat en die huis oopgesluit.
Mev. Thomas is in die huis gedwing.
Die dapper vrou het terugbaklei. “Ek het hom al sy hel gegee.”
Van haar tone is blou van hoe sy haar aanvaller geskop het.
Sy het ook ornamente in die huis gegryp en hom daarmee geslaan.
Die aanvaller het in ’n hangkas gordels en ander artikels gekry waarmee hy Thomas vasgebind het.
Sy is in die badkamer toegesluit en het eers ure later daarin geslaag om haarself los te wikkel.
In die badkamer was ’n spaarsleutel en sy kon die deur oopsluit. Mev. Thomas is toe na haar bure, wat die polisie ontbied het.
Dit blyk al wat die aanvaller gesteel het, was kouevleis, kaas en vermoedelik kledingstukke.
Mnr. Denis Thomas, ’n sakeman van Bloemfontein, sê dit is onaanvaarbaar wat met sy stiefma gebeur het.
“Sy is ’n goeie mens.”
Volgens hom is sy ’n sterk vrou met ’n wil van haar eie en sal die nagmerrie-ervaring kan verwerk.
Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, het die huisroof bevestig. Volgens hom is niemand al in hegtenis geneem nie.)?Dié aanval kom nadat ’n gesin Sondagaand in Jagersfontein deur ses mans met grawe en messe aangeval is.
Onder die slagoffers is mev. Francina van Vuuren (77) wat met bloeding op die brein in die Pelonomi-hospitaal in die stad opgeneem is.
Emeritus-professor Flippie Minnaar (83) en sy vrou, Louise (77), van Paul Rouxstraat in Dan Pienaar, Bloemfontein, is na die Medi-Clinic in die stad gebring nadat hulle Saterdagaand in hul huis oorval is.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment