Friday, March 26, 2010

Moontlike taxigeweld tydens Wêreldbeker-sokkertoernooi pla regering







Moontlike taxigeweld tydens Wêreldbeker-sokkertoernooi pla regering



2010-03-26 01:51
Rajaa Azzakani
Kaapstad
Die kabinet is erg bekommerd oor die bedreiging wat taxigeweld vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi inhou en wil spoedig ’n ooreenkoms met dié bedryf bereik.
Met bietjie meer as 70 dae oor voor die toernooi begin, is daar nog nie duidelikheid oor presies wat dié omstrede bedryf se betrokkenheid gaan wees nie.
Ondanks al die onsekerheid sal die regering geen geweldpleging teen wetsgehoorsame burgers duld nie.
Mnr. Themba Maseko, hoofregeringswoordvoerder, het gesê: “As mense onwettig strate blokkeer of private en openbare eiendom vernietig, sál die wetstoepassers teen hulle optree. Diegene wat wette oortree, moenie kla as owerhede teen hulle optree nie.”
Maseko het toegegee dat dit beter sou wees indien die partye nou reeds ’n ooreenkoms bereik het.
“Die ideale situasie is natuurlik dat al die vraagstukke waaroor gemeenskappe en die taxibedryf kla, opgelos word lank voor die begin van die Wêreldbeker-toernooi sodat wanneer die toernooi begin daar nie betogings sal wees nie en dat ons ’n mate van kalmte in die aanloop tot en gedurende die toernooi kan hê.”
Maseko het gesê mnr. S’bu Ndebele, minister van vervoer, wat tans hoofsaaklik met Santaco gesprekke voer, is bereid om ander groepe ook te woord te staan.
Dit kom nadat die Wes-Kaapse Taxivereniging die Moederstad byna tot stilstand gedwing het met ’n staking.
Gesprekke met die bedryf is reeds geruime tyd aan die gang. Probleme ontstaan egter wanneer ander groepe later eise stel.
“Jy het gesprekke, ’n ooreenkoms word bereik en dan kruip nog ’n groep iewers uit wat met nuwe eise na vore kom,” het Maseko gesê.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment