Wednesday, March 17, 2010

Aanvalle kos SA miljoene







Aanvalle kos SA miljoene



2010-03-17 00:52

Sarel van der Walt
PRETORIA. – Elke plaasaanval wat tot gevolg het dat ’n plaas stilstaan, kos die land se ekonomie konserwatief geraam sowat R1,9 miljoen per jaar.
Die plaasaanvalle het ook ’n baie negatiewe invloed op voedselsekerheid in die land, sowel as die herstel van die ekonomie ná die wêreldwye ekonomiese krisis, het die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid (SAKHN) gister gewaarsku.
As die plaas se produktiwiteit net tydelik beïnvloed word, beloop die verlies aan die bruto nasionale produk (BNP) meer as R160 000 per maand, het die organisasie in ’n verklaring gesê.
Die SAKHN het sy kommer uitgespreek oor die hoë vlak van plaasaanvalle en -moorde wat in die land voorkom en sê hy sal dit met die regering bespreek.
Minstens twee boere en ’n boervrou het die laaste paar dae in plaasaanvalle gesterf. Talle boere het die skuld vir die moorde voor die deur van mnr. Julius Malema, ANC-jeugligaleier, gelê wat verlede week op ’n byeenkoms van die Universiteit van Johannesburg gesing het: “Skiet die boere, hulle is verkragters.”
Daar was tussen 1997 en 2007 landwyd altesame 1 248 moorde op plase. Die meeste van die mense wat vermoor is, was plaaswerkers, luidens polisiestatistieke.
Die SAKHN sê gegrond op die 3,22% wat die landbou in 2009 tot die land se groeisyfer bygedra het, en met die 39 982 plase wat daar in 2007 in die land was as grondslag, het hy bereken dat plaasaanvalle die land jaarliks sowat R1 932 869 per geaffekteerde plaas kos.
Die organisasie sê dié syfers is ’n konserwatiewe benadering ten opsigte van die gevolge wat plaasaanvalle op die ekonomie het. Die grootte van plase en hul produksievermoë is uitgesluit, en die invloed van plaasaanvalle op werksekerheid, die plaaslike voedselbedryf, die sektor se vermoë om internasionaal mededingend te wees en die verskillende soorte plase en boerderybedrywe is ook nie in ag geneem nie.
Mnr. Henk van de Graaf, woordvoerder van TLU SA, het in sy reaksie gesê TLU SA se berekeninge is so naby aan die SAKHN se syfers “dat afwykings so gering is dat dit weglaatbaar is. Daarom kan ons beaam wat hulle in hul verslag sê.”
Van de Graaf sê uit TLU SA se navorsing blyk dit dat nadat ’n boer in ’n plaasaanval dood is, dit ongeveer 18 maande neem voordat die plaas weer op sy ou vlakke van produksie is.
Mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidskomitee, het gesê berekeninge wat dié organisasie gedoen het, dui daarop dat tot 43 mense regstreeks geraak word deur ’n enkele plaasaanval.
“Dit sluit in die gesin van die boer, sy werkers en húl gesinne.
“Wat ons baie pla, is die feit dat daar in die sewe plaasaanvalle wat daar was sedert Julius Malema se uitsprake verlede week, in die meeste gevalle niks gesteel is nie. “Dit laat ’n mens wonder wat die motiewe dan was,” het Botha gesê.
Die polisie het verlede week aangekondig ’n nuwe, hersiene veiligheidstrategie waarin die klem op sogenaamde sektorpolisiëring, en die betrokkenheid van reserviste sal val, is van 1 April af van krag.
Die nuwe strategie is daarop gemik om die polisie se dienslewering en sy sigbaarheid in landelike gebiede te verbeter, sy reaksietye te verbeter, en beter kommunikasie en groter samewerking in landelike gebiede te bewerkstellig.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment