Saturday, March 27, 2010

"Skiet die Boer" verbied







‘Skiet die Boer’ verbied



2010-03-26 22:29

Mnre. Willem Harmse en Muhammed Vawda gister voor die hooggeregshof in Johannesburg nadat die hof beslis het dis onwettig om die woorde “dubulu ibhunu” (“skiet die Boer”) te uiter.Foto: Loanna Hoffmann
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Susan Cilliers
Dit is onwettig en ongrondwetlik om die omstrede frase “dubulu ibhunu” (“skiet die Boer”) te sê of te publiseer, lui ’n bevel wat ’n regter gister in die hooggeregshof in Johannesburg uitgereik het. Waarnemende regter Leon Halgryn het aanvaar dié Zoeloewoorde beteken “skiet die Boer/wit man”, dat dit haatspraak is en die uiting of publikasie daarvan ’n strafregtelike oortreding kan wees as dit gedoen word om misdaad aan te moedig.Mense wat sulke uitsprake maak, kan dus nou strafregtelik aangekla word en sal moet bewys die uitlating was nie bedoel as aanhitsing tot ’n misdaad nie.Die ANC het met “skok” en “teleurstelling” op die uitspraak gereageer en gesê hy gaan die hofbevel in die konstitusionele hof beveg. Die frase is deel van die struggle-lied “Ayesaba amagwale” (“lafaards is bang”) en die ANC meen die regter moes die party se insette oor die lied se geskiedenis en betekenis gekry het, het mnr. Jackson Mthembu, nasionale ANC-woordvoerder, gesê.Mnr. Willie Spies, AfriForum en TLU SA se regsverteenwoordiger, het gesê die hofbevel beklemtoon hoe belangrik dit is dat mense soos die ANC-jeugligaleier, mnr. Julius Malema, gedwing moet word om hulle te weerhou van sulke uitsprake.“Ons sal op die bevel steun in ons aansoek om ’n interdik teen Malema volgende week in die hooggeregshof in Pretoria.”Dis die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaanse hof so ’n bevinding oor dié frase maak, het prof. Pierre de Vos, grondwetkenner van die Universiteit van Kaapstad, gesê.Volgens hom is die implikasie van Halgryn se bevel dat die hooggeregshof in Johannesburg en enige laer hof landwyd daaraan gehoor moet gee en dit volg as iets soortgelyks voor hulle gebring word.Selfs hooggeregshowe in ander streke kan kennis neem van die bevel en dit volg, tensy hulle meen dit is verkeerd.De Vos het gesê die Menseregtekommissie (MRK) se appèlraad het al tevore bevind die uitspraak “Kill the Boer” is haat-spraak. ’n Hofuitspraak is egter meer bindend as dié van ’n regsforum soos die MRK. Halgryn se bevel is uitgereik nadat mnr. Willem Harmse van Delmas ’n aansoek teen mnr. Muhammed Vawda van Barberton ingedien het.Hulle is albei lede van ’n landwye vereniging wat vir landsburgers se grondwetlike regte veg. Die organisasie beplan om op 9 April in Pretoria ’n optog teen misdaad, veral moord op boere, te hou, het Vawda gister aan Beeld gesê.“Die wit boere (in ons vereniging) het begin praat oor die omstrede ‘dubulu ibhunu’. Ek het voorgestel ons maak ’n banier met dié woorde vir ons optog omdat mense dié woorde interpreteer as ‘maak apartheid dood’.“Ek het gedink dit sal die wêreld wys ons stem saam apartheid moes weg en dat ons ’n volwasse demokrasie geword het, maar vra dat moorde nou stopgesit word.”Harmse, ’n sakeman, verskil egter sterk met Vawda: “Jy kan nie woorde se betekenis verander nie. ‘Dubulu ibhunu’ beteken wit mense en boere moet geskiet word. Dis oorlog-spraak en in kontras met waaroor die optog gaan.“Ek en Muhammed is steeds vriende, maar ons het besluit die hof moet ’n beslissing maak,” het Harmse gesê. Vawda het gesê hy aanvaar die bevel. Die optog gaan voort. Baniere met die woorde “Maak misdaad dood, red die boer” sal nou gebruik word. Hof toe oor MalemaAfriForum en TLU SA gaan Maandag ’n hofaansoek by die hooggeregshof in Pretoria indien vir ’n dringende interdik teen mnr. Julius Malema, ANC-jeugligaleier.Dit is omdat hy nie teen gistermiddag 16:00 voldoen het aan die versoek van die twee organisasies om onvoorwaardelik verskoning aan te bied vir sy volgehoue gebruik van die frase “dubulu ibhunu” (skiet die Boer) nie. AfriForum Jeug het op 12 Maart klagte teen Malema by die gelykheidshof ingedien en Malema het al kennis van dié klagte gekry, het mnr. Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum en TLU SA, in ’n verklaring gesê.

No comments:

Post a Comment