Sunday, March 28, 2010

Burgers moet hulself teen regering verset...Regsverteenwoordiger van Afriforum..Mnr Willie Spies


Burgers móét hulself teen regering verset, sê AfriForum se Spies

2010-03-28 22:15

Sonja Carstens
Suid-Afrikaners moet hulself verset teen die regering wat die Grondwet vertolk op ’n manier wat hom pas, al is die land ’n regstaat.Só het mnr. Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, die naweek gewaarsku toe hy die filosofie-kafee by Café Riche op Kerkplein, Pretoria, toegespreek het oor die onderwerp “Waarom verset, selfs in ’n regstaat?”.Spies het burgers se gebrek aan verset vergelyk met ’n huiseienaar wat aan sy huis laat bou, maar die bouer toelaat om te maak wat hy wil.“?’n Regstaat is ’n staat waarin daar volgens reëls geregeer word. Die reëls is vervat in ’n kontrak tussen die staat en die burgery – ’n grondwet. “Maar net soos ’n mens in die geval van ’n ooreenkoms met ’n kontrakteur wat nie presteer nie sekere middele moet hê om die kontrakteur tot orde te roep, so het ons dit ook in ’n regstaat nodig. Verset is een manier waarop burgers die regering as kontrakparty tot orde kan roep,” het Spies gesê.Volgens Spies is verset teen die regering uiters noodsaaklik.Die redes is onder meer dat die staat hofbevele ignoreer, aandring op die oordrewe verteenwoordiging van rasse en onsensitief en uiters onverantwoordelik teenoor misdaadslagoffers optree met die regering se steun aan mnr. Julius Malema, ANC-jeugligaleier, se “haatspraak-uitlatings”.Spies het verwys na die ANC wat met “skok” en “teleurstelling” gereageer het op die bevel wat Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg gelewer is. Hiervolgens is dit onwettig en ongrondwetlik om die omstrede frase “dubulu ibhunu” (skiet die Boer) te sê of te publiseer.AfriForum vra vandag die hooggeregshof in Pretoria om Malema met ’n dringende interdik te verbied om die gewraakte woorde te sê.Volgens Spies is die aard van verset belangrik. Dit moet gepaard gaan met ’n verantwoordelikheid- en roepingsbesef en moet volhoubaar wees. Met verwysing na die oud-joernalis Chris Louw, wat homself vier maande gelede doodgeskiet het, het Spies gesê dit was ook ’n daad van verset. Louw het kort voor sy dood geskryf: “Ons deelname aan die openbare lewe word stelselmatig afgetakel om ons aandeel in die bevolkingsamestelling te reflekteer: 6%. Dit is wat ons standpunt vandag werd is.”Spies meen egter Suid-Afrikaners moet hulle weerhou van selfvernietigende dade van verset. “Daar bestaan nog middele waardeur die 6% deur vindingrykheid en ’n goed georganiseerde burgerlike samelewing hulself hoorbaar kan maak.”Met verwysing na AfriForum se “burgerlike sanksieveldtog teen Zimbabwe” het Spies daarop gewys dat AfriForum deur middel van gewone regsprosesse en sy beoogde beslaglegging op Zimbabwiese eiendom in Kaapstad dié week reeds “sanksies” van ’n groter omvang as die VSA se geteikende sanksies teen Zimbabwe-regeringslui instel.

No comments:

Post a Comment