Wednesday, March 17, 2010

Boer (23) in hegtenis geneem wat plaasaanvaller ontwapen

Boer (23) in hegtenis geneem wat plaasaanvaller ontwapen
2010-03-17 00:53

Charles Smith
’n Jong boer van Kroonstad wat ’n plaasaanvaller ontwapen het wat hom met ’n mes aangeval het, is gister summier deur die polisie 48 uur lank toegesluit omdat die aanvaller gaan kla het.
Mnr. Chris Grobler (23) se ouers het teen gister laat alles probeer om hom voor donker uit die polisieselle op Koppies vrygelaat te kry. Die chaotiese regstelsel het hulle erg belemmer. Hy en sy plaasvoorman, mnr. Eugene Lloyd, is saam in die selle aangehou. Die mede-aangehoudenes het teen 20:00 begin om teen hulle te toi-toi.
Mnr. Christo Grobler het gesê drie prokureurs het hul bes gedoen om sy seun vrygelaat te kry. Toe was die polisiebeampte met die dossier soek en daar was kwansuis géén inskrywing in die voorvalleboek dat die polisie hul plaas Saterdag besoek het nie.
Sy vrou, Alta, het toe van hul plaaswerkers gaan haal om verklarings by die Heuningspruit-polisiekantoor af te lê dat hulle – dié einste polisiebeamptes – wél Saterdag op hul plaas was.
Chris het die polisie Saterdag laat kom toe ’n gewese plaaswerker, wat ses maande gelede afgedank is nadat hy motorbatterye gesteel het, moles op die plaas Labri gemaak het.
Die polisie het die man wel verwyder.
Sondagaand was die man terug – dié keer erg aangeklam. Toe Chris hom wegwys, het hy ’n mes uitgepluk en na Chris gesteek. Die jong boer het die mes afgevat en die aanvaller het hard met moederaarde kennis gemaak, het Grobler sr. gisteraand gesê.
Die polisie is weer gebel, maar hulle het nooit uitgekom nie. Die aanvaller se arm is glo beseer en hy het by die polisie gaan kla. Maandag het twee konstabels op die plaas opgedaag.
“My vrou wou weet hoekom hulle nie Sondag opgedaag het nie. Een konstabel het vir haar gesê sy moet haar nie ‘wit hou’ nie.
“Die bevelvoerder van die Heuningspruit-polisiekantoor het vir my gesê as Chris stilgestaan het dat hy raakgesteek is, was die aanvaller in die selle en nie hy (Chris) nie.”
Chris is gevra om gister ’n verklaring by die polisiekantoor te gaan aflê. Hy en Lloyd is kort daarna in hegtenis geneem en in die polisieselle op Koppies toegesluit. Volgens die polisie hier moet hulle ’n “verpligte” 48 uur opgesluit word, al is geen klag teen hulle ingedien nie.
Grobler sr., wat die week op Lichtenburg is, het alles moontlik probeer doen om sy seun vrygelaat te kry.
Sy vrou en Chris se lewensmaat, Angelique, en hul baba van ses maande, Chris, is alleen op die plaas.
“My vrou het die landdros op Koppies gaan sien, die deur toegetrek en sy hulp gevra omdat hulle vrou-alleen op die plaas is.
“Hy het gesê sy hande is afgekap. Ons probeer alles in ons vermoë. Ek weet nie wat in die land aangaan nie.”
Kapt. Msisitheki Selima, woordvoerder van die polisie op Kroonstad, het die voorval aan Johan Brits bevestig.
Hy sê “twee wit mans” het die klaer aangerand.
Gee jou mening oor hierdie gesprek - lewer hier kommentaar of stuur `n brief na cornelia.vdmerwe@volksblad.com.

No comments:

Post a Comment