Tuesday, March 16, 2010

Malema moet aan SA se vroue om verskoning, vra beslis hof







Malema moet aan SA se vroue ekskuus sê, beslis hof



2010-03-16 00:59

Daniëlla du Plooy
JOHANNESBURG. – Mnr. Julius Malema het tien dae om te reageer op ’n haatspraak-aanklag oor sy “kill the boer”-uitlatings nadat hofdokumente aan die ANC-jeugliga (ANCJL) beteken is op dieselfde dag waarop Malema deur die hof skuldig bevind is op ’n soortgelyke klag.
Malema is gister deur die Johannesburgse gelykheidshof gelas om die vroue van Suid-Afrika onvoorwaardelik om verskoning te vra nadat hy skuldig bevind is op ’n aanklag van haatspraak en teistering. Hy moet ook ’n bedrag van R50?000 aan ’n sentrum vir mishandelde vroue betaal.
Die nuwe aanklag voor die gelykheidshof is deur AfriForum ingedien oor Malema se “skiet die boer” -uitsprake. Mnr. Ernst Roets, nasionale voorsitter van AfriForum-jeug, het gesê die uitspraak gister is ’n oorwinning vir die onafhanklikheid van die regbank.
Landdros Colleen Collis het Malema skuldig bevind weens die uitsprake ?wat ?hy ?op ?22 Januarie verlede jaar gemaak het voor studente van die Kaapse Skiereieland-universiteit van Tegnologie oor die aanklag van verkragting waarop pres. Jacob Zuma in 2006 onskuldig bevind is.
“As ’n vrou dit (seks) nie geniet nie, loop sy vroeg in die oggend. Diegene wat dit geniet het, wag totdat die son opkom en vra ontbyt en taxigeld.
“Dié oggend het dáái vrou ontbyt en taxigeld gevra. Jy vra nie taxigeld van iemand wat jou verkrag het nie.”
Malema is deur mnr. Mbuyiselo Botha, raadgewer van die Sonke Gender Justice Network, hof toe geneem.
Collis het gesê Sonke se regspan het bewys Malema se stellings is haatspraak.
“Hy het dit op ’n openbare platform gesê en moes in ag neem dat mense dit kon interpreteer as skadelik.”
Botha het gister buite die hof gesê Suid-Afrikaanse politici soos Malema mag nie met haatspraak wegkom nie.
Sowat 20 Sonke-ondersteuners, hoofsaaklik mans, het buite die hof die oorwinning gevier.
Hulle het onder meer gesing “Malema, jý is ’n Mickey Mouse” nadat die jeugligaleier Sonke met ’n vorige hofverskyning ’n “Mickey Mouse-organisasie” genoem het.
Botha het gesê die doel van dié hofsaak was nie om Malema te verneder nie.
“Inteendeel, ons sal graag met hom saamwerk in die toekoms, as hy belang stel. Politici moet ’n voorbeeld stel.
“Ons hoop Malema sal opreg om verskoning vra vir al die seer wat hy veroorsaak het met sy woorde.”
Malema was nie self by die hof nie. Sy prokureur, mnr. Tumi Mokwena, het aangedui Malema gaan aansoek om verlof tot appèl doen.
Sou Malema weier om verskoning te vra of die geld aan die sentrum te gee, kan hy skuldig bevind word aan minagting van die hof en selfs tronkstraf kry. Haatspraak is ’n misdaad en Malema sal nou ’n misdaadrekord hê, het prof. Marinus Wiechers, regskenner, gesê.
Die ANC-jeugliga het gister in ’n verklaring gesê hulle is “teleurgesteld” met die uitspraak en staan steeds agter Malema.
Cope het Malema se stellings as “?’n belediging vir alle vroue” beskryf, terwyl die DA in ’n verklaring gesê het Malema moet dadelik om verskoning vra as hy “enige respek vir die Grondwet het”.
Die VF+ het gister in ’n verklaring gesê hy verwelkom die uitspraak. Met verwysing na die haatspraak-aanklag van AfriForum, het die VF+ gesê dié uitsprake skep ’n atmosfeer vir moord op boere.
“Geen diep denke is nodig om te besef dat Malema se uitsprake ’n atmos-feer skep wat gunstig is vir diegene wat wil moor nie. As ’n invloedryke jeugleier skep hy ’n tydsgees waarin roekelose denke en optrede gedy,” het adv. Anton Alberts, die VF+ se parlementêre woordvoerder oor ekonomie, gesê.
Landdros Collis het in haar uitspraak die woorde van die Amerikaanse skrywer Oliver Wendell Holmes aangehaal en aan Malema gesê: “Be wary of turning into a man that often speaks but never talks.”
Gewraakte lied ‘vuur plaasmoorde aan’
KAAPSTAD. – Die gewraakte vryheidsliedjie Maak dood die boer, wat verlede week deur mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, gesing is, vuur plaasmoorde aan.
Só het opposisiepartye gister gesê te midde van drie plaasmoorde wat die afgelope naweek plaasgevind het.
Die ANC-leierskorps is ook hewig gekritiseer omdat hy versuim het om Malema daaroor voor stok te kry.
Volgens mnr. Athol Trollip, die DA se ?parlementêre ?leier, ?stuur ?dié liedjie, wat Malema voor ’n gehoor by die Universiteit van Johannesburg gesing ?het, ?die ?boodskap ?uit dat ?wit boere ?steeds ?die ?vyand ?van die staat? is.
“Ons land het ’n bloedige verlede wat nie juis ’n bron van nasionale trots is nie.
“Dit het op almal emosionele letsels gelaat wat net onder die veloppervlak broei. Uitsprake soos dié krap hierdie wonde weer oop.”
Dit is verbysterend dat nóg pres. Jacob Zuma, nóg die ANC se sekretaris-generaal, mnr. Gwede Mantashe, bereid is om Malema hieroor te straf, het Trollip gesê.
Mantashe het verlede week gesê “vryheidsliedjies” soos wat Malema gesing het, is deel van die geskiedenis van die vryheidstryd en dat die media dit “vulgariseer”.
“Dit is Malema se eie vulgarisering van dié lied wat soveel haat en beswaar ontlok,” het Trollip gesê.
Die VF+ het op sý beurt in ’n verklaring gesê Malema is aandadig aan die “uitwissing van boere in Suid-Afrika”.
Volgens mnr. Anton Alberts, LP, skep Malema se uitsprake ’n atmos-feer wat “gunstig” is vir diegene wat wil moor.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment