Friday, March 19, 2010

Dit mors ,maar die middestad is dors

Dit mors, maar middestad is dors

2010-03-19 00:53

Vicüs Bürger

VAN die geboue in Bloemfontein se middestad beleef ’n “droogte” weens te min of geen water nie, maar elders in die stad stroom silwerskoon drinkwater die strate af see toe.

In die direkteur van openbare vervolging se kantoorgebou kom haal van die werkers net soggens werk en vat dit weens die waternood huis toe.

Die Liberty Life-gebou, wat die departement van maatskaplike ontwikkeling huisves, sukkel nog meer. Hier het twee pype boonop gebars.

In albei geboue laat die ongespoelde toilette die werkers hul neuse toeknyp.

In teenstelling met dié waternood, kry Volksblad daagliks oproepe van Bloemfonteiners oor water wat in woonbuurte se strate wegspoel. Die afgelope dae is drie voorvalle X in Groenewoudstraat, Kerkstraat en Poole-straat X aangemeld.

Adv. Jo Hiemstra, SC, adjunk-direkteur van openbare vervolging in die Vrystaat, sê die kantoorgebou in Aliwalstraat het op die grondvlak water, maar verder is die krane droog.

Hy sê dit is “erg ontwrigtend”. Van die advokate werk eerder by die huis.

Boonop is die stinkende toilette erg onhigiënies.

Oor die waterprobleme sê Hiemstra: “Ek het geen idee wanneer die situasie gaan normaliseer nie. In dié stadium sien ek nie die lig (aan die einde van die tonnel) nie.”

Hy sê geen werk is egter agterstallig nie en hofverrigtinge gaan voort.

Mej. Ipeleng Morake, woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling, sê buiten die watertekort, het twee pype in die Liberty Life-gebou ook gebars. Een neem water na die toilette en die ander een na die krane.

Die pype is herstel nadat dit twee weke gelede gebars het. Begin vandeesweek het dit weer gebars.

Die departement het intussen watersuiweringstenks en draagbare toilette vir personeellede voorsien.

Volgens haar tap water stadig in die toilette in. “Mense kan net soggens die toilette spoel.”

Volksblad-personeel het ook vandeesweek die waternood aan eie bas gevoel, toe krane in die koerantgebou waterloos was.

Mnr. Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-munisipaliteit, sê Bloemwater pomp tans 800?F water pleks van 1?200 F per sekonde.

Dit kom nadat drie pompe gebreek het en herstel word.

Die munisipaliteit versoek mense om water spaarsamig te gebruik en nie hul tuine nat te lei nie.

In Poolestraat het mnr. David Tanton gister gewys waar drinkwater al drie weke uit ’n watermeter stroom. Volgens hom het hy al telkens die munisipaliteit gekontak, maar sonder enige sukses.

Mev. Marili Coetsee sê ’n waterpyp by ’n huis in Groenewoudstraat lek al nagenoeg twee weke. “Dit is skoon drinkwater.”

Dit is ook nie net in Bloemfontein waar krane droogloop nie. Verskeie Vrystaatse dorpe, onder meer Ficksburg, Smithfield, Koffiefontein, Dealesville, Dewetsdorp en Zastron, word deur ’n watertekort geteister, is vroeër berig.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment