Tuesday, March 23, 2010

Malema sing dieselfde deuntjie











Malema sing dieselfde deuntjie




2010-03-23 01:03

Carla van Niekerk
MAFIKENG. – Mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, het gister sy toespraak voor sowat 2 000 mense in dié stad begin met die “Skiet die boere”–strydlied.
Malema, wat onder luide toejuiging in ’n gemeenskapsaal gepraat het om Menseregtedag te gedenk, het gesê die jeugliga sal dié soort strydliedjies sing om hulle te herinner aan “wat ons mense deurgegaan het” by Sharpeville.
“Terwyl ons (Menseregtedag) vier, sal ons die liedjies sing wat ons mense daardie tyd gesing het.”
Volgens Malema het oudpres. Nelson Mandela om politieke vryheid geveg, maar die stryd om ekonomiese mag moet nou geveg word.
“Die ekonomie is steeds in die hande van wit mans. Ons wil wit vroue ook bevry, want hulle is uitgesluit uit die ekonomiese mag. Ons veg nie teen wit vroue nie.”
Malema het verder gesê hul wit eweknieë moet transformeer en aanvaar die ANC gaan “vir die volgende honderde jaar” aan die bewind wees.
Dié jeugleier het weer skerp teen die media uitgevaar en gesê die media sal nie die ANC-jeugliga onderkry nie.
“Wit boere-joernaliste ken nie die ANC nie. Joernaliste weet niks van die vryheidstryd nie. Hulle skryf nie wat ons sê nie. Hulle luister nie.”
Hy het verder gesê swart joernaliste skryf nie hul eie berigte nie, maar redakteurs skryf ander inligting onder hul name.
Volgens Malema beteken menseregte mense moet behuising en gratis, gehalte-opvoeding ontvang.
Malema se ondersteuners het ook hard hande geklap toe hy weer gesê het die myne moet genasionaliseer word. Hy het bygevoeg die inwoners van Noordwes moet die platinum wat in Rustenburg ontgin word, besit.
Die myne moet onder meer ook huise en skole in die gemeenskappe bou en nie die hulpbronne uitbuit nie.
Hy het die toeskouers voorts gewaarsku om nie individue binne die ANC aan te hang nie, maar die organisasie as geheel.
“Al is daar probleme in die ANC, bly deel van die ANC. Die ANC sal nooit doodgaan nie.”
Malema wou nie die nuusmedia ná sy toespraak te woord staan nie en het vinnig in sy sport-nutsvoertuig vertrek.
Mnr. Vincent Moaga, woordvoerder van die Menseregtekommissie (MRK), sê sedert Malema die “Skiet die boere”-lied verlede week by die Universiteit van Johannesburg gesing het, het hulle 109 klagtes ontvang.
Moaga sê AfriForum het ’n klag by die gelykheidshof oor dié lied ingedien en die MRK mag nie kommentaar lewer voordat die hofsaak afgehandel is nie.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment