Wednesday, March 24, 2010

Amptgenare "kom met moord weg"




Amptenare ‘kom met moord weg’


2010-03-24 00:14
Pieter du Toit
Kaapstad-Die presidensie het verlede jaar R5 miljoen aan pres. Jacob Zuma se regskoste bestee toe hy hom teen aantygings van bedrog en korrupsie verweer het.
Die finale bedrag wat belastingbetalers aan prokureurs en advokate bestee het, is nog nie bekend nie, maar sal binne sewe dae aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) voorgelê word.
Me. Jesse Duarte, die presidensie se operasionale hoof, en me. Bahumi Matebisi, hoofbeampte, wou nie ná die vergadering met Skoor sê hoeveel Zuma se regskoste uiteindelik beloop het nie.
Mnr. Vusi Mona, kommunikasiehoof, het later gesê dié syfer sal binne sewe dae aan LP’s voorgelê voordat dit bekend gemaak sal word.
Hoewel Zuma nie ’n staatsamptenaar was ten tyde van die aantygings teen hom nie, het die belastingbetaler vir sy regskoste opgedok omdat die klagtes verband gehou het met sy ampstyd as adjunkpresident.
Duarte en Matebisi, deel van ’n afvaardiging onder leiding van ’n tjoepstil mnr. Collins Chabane (’n minister in die presidensie), moes bontstaan vir vrae oor ongemagtigde en ongereelde besteding, asook swak interne batebeheer.
Mnr. Themba Godi (APC), Skoor-voorsitter, het die voortdurende frustrasie van die komitee met staatsdepartemente verwoord toe hy aan Chabane gesê het daar bestaan “ernstige kommer” oor die vlak en gehalte van leierskap.
“Mense kom met moord weg. Groot en klein oortredings, wanneer dit by finansiële en batebestuur kom, word sommer afgemaak, soos in die geval van die Nasionale Jeugkommissie (NYC). Hulle is mense sonder enige verantwoordelikheidsin as dit by geld kom, maar kry net meer.”
Verskeie LP’s, onder wie Godi en mnr. Mandla Mbili (ANC), het uitgevaar teen die gebrek aan verantwoordbaarheid. Amptenare se nalating om die presidensie se bateregister op te dateer en oorbetalings aan die NYC het LP’s veral warm onder die kraag gehad.
In die eersgenoemde geval het Duarte erken daar was geen optrede teen die nalatiges nie, hoewel dit tot die kontraktering van konsultante gelei het om die ganse stelsel reg te ruk. In die tweede geval is miljoene rande aan die NYC se leierskap oorbetaal ondanks hul versuim om hul finansies in orde te kry.
“Dít is een van die mees dringende kwessies: die feit dat niemand verantwoordelik gehou word nie,” het Godi gesê. “Oortredings het geen gevolge nie en al wat ons by staatsdepartemente hoor – en moet nou nie lag nie – is dat oortreders ‘berading ontvang’ of ‘aan ’n werksessie gaan deelneem’.
“Hierdie mense ontvang salarisse om ’n werk te doen, dan nie? Hier is ’n algemene neiging vir departemente om te sê: ‘Ag wat, dis reg, los die verlede in die verlede.’
“Die staatsdiens moet sy houding verander. Daar móét gevolge vir nalatigheid wees.”
- Volksblad

No comments:

Post a Comment