Thursday, March 18, 2010

Vrystaatse Komitee..Plekname verander dalk binne drie maande


VS-plekname verander dalk binne 3 maande2010-03-17 23:49
Cathy Dlodlo
Kroonstad kan binne drie maande Maokeng of Bodibeng heet as die aansoeke deur die Vrystaatse komitee vir geografiese name goedgekeur word.
Die voorsitter van die komitee, mev. Seipati Dichabe, het in ’n onderhoud met Volksblad gesê die komitee hoop om die hele proses, wat reaksie op voorgestelde name, openbare verhore, navorsing en moontlike stemmery oor die keuses van name insluit, binne drie maande af te handel.
Sy sê sommige van die voorgestelde name op die lys, soos dié vir Thaba Nchu (Thaba Ntsho) en Clocolan (Hlohlolwane) behels eintlik net die korrekte spelling van die oorspronklike name.
Dichabe sê in die geval van Clocolan is dié dorp eintlik genoem na die Hlohlolwane-berg en dit word algemeen aanvaar dat die dorp se naam te moeilik was om uit te spreek. Dié dorp is aan die voet van dié berg geleë.
Sy sê die korrekte spelling van Thaba Nchu is eintlik Thaba Ntsho, Sesotho vir swart berg. Dié dorp is ook aan die voet van dié berg geleë.
Dichabe sê enige lid van ’n gemeenskap in die provinsie kan ’n aansoek om naamsverandering vir sy dorp, stad of openbare plek indien. “Ons (die komitee) word dan deur die wet verplig om die aansoek te ondersoek en om die publiek se kommentaar daaromtrent te kry.”
Dichabe sê terwyl die komitee op die kommentaar wag, doen hulle navorsing oor plekke se bestaande en voorgestelde name.
Sy sê die komitee help dan plaaslike owerhede om openbare verhore hieroor te hou. Indien twee name voorgestel is, kan selfs tot stemming oorgegaan word. “Ons maak dan ’n voorstel aan die nasionale komitee vir geografiese name, wat dit oorweeg en na die minister vir sport, kuns en kultuur verwys vir ’n finale besluit.”
Dichabe sê die publisering van die voorgestelde name is net die eerste stap.
Mnr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die provinsie, sê die aankondiging wat gister in Volksblad gepubliseer is, het ’n konsternasie veroorsaak. Hy het ’n brief aan Dichabe gestuur waarin hy sy misnoeë uitspreek, omdat die name sonder enige verduideliking of agtergrond gepubliseer is.
Jankielsohn sê sy party ondersteun enige proses wat versoening bevorder en diverse gemeenskappe nader aan mekaar kan bring.
Hy sê dit sluit enige voorstelle oor naamsveranderinge of benoemings in, maar sulke voorstelle het die potensiaal om konsternasie te veroorsaak en daar moet versigtig en verantwoordelik daarmee omgegaan word. Almal moet ook kans gegun word om kommentaar te lewer.
Jankielsohn sê die geldelike implikasies van naamsveranderinge moet ook bekend gemaak word sodat behoorlik daarvoor begroot kan word.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment