Tuesday, March 23, 2010

Malema ken dalk nie die Grondwet nie....Buthelezi







Malema ken dalk nie Grondwet, sê Buthelezi



2010-03-23 00:05
Dries Liebenberg
Durban
Hy wonder of mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, al ooit Suid-Afrika se Grondwet gelees het, het mnr. Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, gister by ’n saamtrek in Estcourt gesê.
Die IVP-leier het die stelling eergister by ’n saamtrek ter viering van Menseregtedag gemaak na aanleiding van Malema se onlangse gesing van die “Kill the Boere”-lied.
“Hoe is dit moontlik dat die president van die ANC-jeugliga in die openbaar kan opstaan en sê iemand verdien om doodgemaak te word?” het Buthelezi ­gevra.
Hy het gesê dit is vir hom merkwaardig dat burgers in vandag se dae nog noodgedwonge politieke leiers by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet verkla “om hulle te dwing om dieselfde regte te respekteer waarvoor ons al die jare geveg het”.
“Die basiese vereiste vir enige leier in Suid-Afrika is om die land se Grondwet te ken en te re­spekteer,” het Buthelezi gesê.
Die IVP-leier het egter bygevoeg dat sy eie party met dieselfde soort probleem worstel.
“Dis tragies dat die woelinge binne die IVP veroorsaak word deur dieselfde probleem dat sommige jong mense nie die party se grondwet ken en respekteer nie.”
Die IVP probeer reeds geruime tyd vure doodslaan omdat daar veral onder die jeug hervorming binne die party en ook ’n verandering in leierskorps geëis word.
Dit het uitgeloop op steunwerwery vir óf me. Zanele Magwaza-Msibi, nasionale voorsitter, óf eerw. Musa Zondi, sekretaris-generaal, om op die nasionale konferensie einde Mei in Buthelezi se plek tot partyleier verkies te word. ’n Drukgroep, Vriende van V.Z. Magwaza-Msibi, is onlangs in die lewe ­geroep.
Buthelezi het ook gesê dit is geen geheim nie dat raadslede van die uThukela-distrik besig is om fiktiewe takke te stig wat hulle “as stormramme” in die komende leiersverkiesing in die party wil inspan.
Hulle het ook wyd en syd gereis om mense te oorreed om nie ’n saamtrek by Qhudeni by te woon nie wat deur Buthelezi toegespreek is.
Buthelezi het hulle opstokers, moeilikheidmakers en saboteurs genoem, maar gesê hulle sal nie daarin slaag om die party se grondwet ongedaan te maak nie.
Volgens Buthelezi is die party se grondwet nie daar om mense te boelie, soos wat gesê word die IVP met Magwaza-Msibi maak nie, maar om die party volgens demokratiese beginsels te bestuur en doeltreffendheid en dissipline te handhaaf.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment