Friday, March 19, 2010

POLISIE SKIET ROWER NA SY MOTOR ROL




Polisie skiet rower ná sy motor rol


2010-03-19 08:51

Die polisie het gistermiddag laat ’n rower ná ’n wilde jaagtog tussen Delmas en Boksburg aan die Oos-Rand doodgeskiet nadat sy wegkommotor gerol het. Volgens supt. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder in Gauteng, het die rower en vyf makkers die PEP in Delmas glo tussen 16:30 en 17:00 beroof. Hulle het met ’n onbekende bedrag en selfone in ’n blou BMW gevlug. Die Secunda-blitspatrollie was gou op hul spoor en het die Gautengse blitspatrollie van die voorval in kennis gestel terwyl hulle die verdagtes agternagesit het. Dlamini het gesê die BMW het kort voor 18:00 naby die Rietfontein-afrit in Boksburg gerol. Een verdagte het glo uit die wrak geklim en op die polisie begin skiet. “Die polisie het teruggeskiet en hom gedood.” Vier van die verdagtes is ernstig beseer en onder polisiebewaking na ’n nabye hospitaal geneem. Hulle gaan van gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla word, het Dlamini gesê. Die sesde verdagte het van die ongelukstoneel gevlug en is nog soek. ’n Rewolwer, pistool, selfone en geld is in die BMW gekry. Volgens Dlamini gaan ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word. – Carina van Wyk

No comments:

Post a Comment