Friday, March 19, 2010

Man jaag met Mercedes in kaper se Volvo vas







Man jaag met Mercedes in kapers se Volvo vas



2010-03-19 13:57
Wolfram Zwecker’n Poging tot ’n motorkaping in Bedfordview aan die Oos-Rand het eergisteraand in ’n klein oorloggie ontaard waarin ’n kaper vermoedelik gewond en ’n motor van ’n veiligheidsmaatskappy later in Alexandra uitgebrand is. Volgens kapt. Roelien Marais, woordvoerder van die Bedfordview-polisie, het die drie insittendes van ’n Volvo omstreeks 19:00 ’n man in sy Mercedes-Benz ML in die oprit na sy huis in Deanweg, Bedfordview, vasgetrek. Dié geskokte man se naam is nog nie deur die polisie bekendgemaak nie. Hy het met ’n vaart agteruit in die kapers se motor vasgejaag. Die botsing se geweld was so erg dat die vermeende kapers se motor uit die pad geskuif is en die Mercedes-Benz kon wegkom. Terwyl die Mercedes-Benz besig was om die Volvo uit die pad te stoot het een van die kapers langs die Mercedes-Benz gehardloop en ’n skoot deur die passasiersvenster geskiet. Die bestuurder is nie getref nie. Intussen het mnr. Jacques Reynecke van Sinqobile Equestrian Security Services (SESS) toevallig op die hoek van Dean- en Bowlingweg stilgehou en uit sy motor geklim om te kyk wat aangaan. Toe die kapers hom sien, het hulle op hom begin skiet en het hy teruggevuur. Hulle het daarin geslaag om in Reynecke se motor te spring en weg te jaag, het ’n lid van die Bedfordview Residents Action Group (RAG) gister gesê. Sy wou nie haar naam genoem hê nie. Die aanvallers het koeëlvaste baadjies gedra en was met AK47-aanvalsgewere gewapen.Daar was bloedstrepe op die pad en die vermoede bestaan dat die aanvaller wat langs die Mercedes-Benz gehardloop het, óf raak gery óf raak geskiet is. Die Volvo kon ná die botsing teen die Mercedes-Benz nie verder ry nie.Die aanvallers het in Bowlingweg afgejaag tot by die T-aansluiting met Pineweg, waar hulle in die verbyry op mnr. Johnny Els, ook ’n SESS-veiligheidswag van, geskiet het. Hy is nie gewond nie en het teruggeskiet. Die veiligheidsmaatskappy se motor, ’n Toyota Yaris, is later die nag uitgebrand in Lombardy-Oos, naby Alexandra, gevind. Volgens Marais is nog niemand gearresteer nie. Die Volvo is ’n maand gelede in Benoni gekaap en is gister deur die polisie by die Germiston-polisiekantoor ondersoek vir vingerafdrukke en DNS. Die bestuurder van die Mercedes-Benz sou gister ’n verklaring by die polisie aflê.Rowers het ’n man skaars ’n maand gelede in sy slaapkamer in Kingsweg, net agter dié kapingstoneel, doodgeskiet.



( Beeld )

No comments:

Post a Comment