Monday, March 15, 2010

Hier borrel rioolvullis uit storte...Louis Trichardt


Hiér borrel rioolvullis uit storte
2010-03-13 23:20
Mnr. Mike Galvin wys waar onverwerkte rioolvullis by sy stort uitgeborrel het.
Foto's · Lesersfoto’s · Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's · Stuur vir ons jou foto's
Willem Pelser
In Louis Trichardt in Limpopo moet jy góú stort.
Die dorp se rioolstelsel is so voos dat jou buurman se onverwerkte rioolvullis tussen jou tone kan uitborrel.
Mnr. Mike Galvin, ’n inwoner, vertel die dorp se rioolpompe is buite werking en die rioolvullis het onlangs in die pype opgehoop en teruggestoot. Dit het deur sy stortvloer geborrel en ’n deel van sy huis oorstroom. Hy en sy vrou moes self opruim.
Die munisipaliteit se oplossing was om ’n gat in die bogrondse rioolpype naby sy huis te slaan sodat die riool in die veld kan inloop.
Keelvol inwoners weerhou die afgelope drie jaar hul erfbelasting weens soortgelyke probleme.
Volgens mnr. Herman Smith, woordvoerder van die Soutpansberg-belastingbetalersvereniging, is R2,5 miljoen reeds teruggehou en in ’n prokureur se rekening inbetaal. Daar is tans nog hofsake hangende tussen die vereniging en die munisipaliteit.
Veral kroniese watertekorte is ’n probleem.
Die watertekort is die gevolg van ’n geskil tussen die munisipaliteit en ’n swart-ekonomiese-bemagtiging-kontrakteur wat ’n nuwe waterreservoir begin bou het. Dit is halfpad gestaak weens swak bouwerk.
Mnr. Stephen Hofmann, ’n boer, sê dis moontlik dat die belastingbetalersvereniging ’n parallelle munisipaliteit op die been sal moet bring om dienste te lewer.
“Ons is baie bekommerd dat boere se watertoevoer deur die dorp se rioolvullis en landbouprodukte met Escherichia coli (E. coli) en salmonella besmet sal word.”
Me. Eliza Matumba van Tshikota net buite die dorp sê amptenare by die munisipaliteit moet deur bekwame mense vervang word. Haar grootste wens is vir ’n Hop-huis met ’n spoeltoilet. Sy gebruik die veld buite haar sinkhut as ’n toilet.
- In Phalaborwa, waar inwoners sedert Mei 2008 belasting weerhou, is R750?000 reeds in ’n fonds inbetaal, sê mnr. Tommie Marais, bestuurskomiteelid van die belastingbetalersvereniging.
Dié vereniging beplan om die paaie in die sentrale dorpsgebied daarmee te herstel.
Volgens Marais beland onverwerkte rioolvullis uit Phalaborwa gereeld in die aangrensende Krugerwildtuin se riviere. Die saak is by die Groen Skerpioene aangemeld, maar sonder enige reaksie.
Mnr. Oulik Mashego, ondervoorsitter van die belastingbetalersvereniging hier, het ’n groot probleem daarmee dat ’n klein groep mense gedwing word om vir elektrisiteit en water te betaal, terwyl soveel ander dit gratis kry.
- Rapport

No comments:

Post a Comment