Tuesday, March 16, 2010

Bewering van seks vir werk in griefskrif


Bewerings van seks vir werk in griefskrif

2010-03-16 00:59
BEWERINGS van “seks vir werkgeleenthede” teen senior polisiebeamptes in die Vrystaat word gemaak in ’n griefskrif wat vandag by Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor, ingedien gaan word.
Een geval is dat ’n direkteur in die polisie, wat nou geskors is omdat hy glo ’n vrou in sy kantoor verkrag het, glo werk aan vier burgerlike vroue aangebied het as hulle met hom seks sou hê.
’n Groep polisielui in die provinsie ruk vandag op om die ANC in te lig oor die beweerde veldtog van viktimisering wat komm. Amon Mashigo, die provinsiale polisiehoof, hier voer.
’n Eis van R4,5 miljoen teen die polisie deur sr. supt. Makhokolo Mashinini, gewese waarnemende bevelvoerder van die polisie op Sasolburg, is ook in die griefskrif vervat wat ingedien word.
Mashinini voer aan hy het 29 maande in die pos waargeneem, maar was nie op die kortlys vir die poste van bevelvoerder vir Sasolburg, Welkom of Bethlehem nie. Die poste moet hergeadverteer word en hy ’n gelyke kans gebied word, of hy moet R4,5 miljoen betaal word weens ’n onregverdige arbeidspraktyk.
Mnr. George Mashale, leier van die groep gegriefde Vrystaatse polisielui, sê ’n vriend van Mashigo is as die nuwe bevelvoerder op Sasolburg aangestel, wat kort ná sy aanstelling in hegtenis geneem is weens die beweerde verkragting van ’n vrou in sy kantoor. Hy het hiervoor in die hof verskyn.
Mashale sê hulle het inligting van vier vroue bekom dat dié direkteur hulle werk in die polisie aangebied het as hulle met hom seks sou hê.
Volksblad het met ’n polisiebeampte gepraat wat die vier vroue ken. Hy sê hulle het nooit ’n amptelike klag ingedien nie, omdat die betrokke direkteur hulle destyds gedreig het.
Nog ’n klagte wat in die griefskrif vervat is, is deur ’n vroulike bevelvoerder wat aanvoer dat ’n senior – ’n bekende in Vrystaatse polisiekringe – haar die pos aangebied het as sy met hom seks sou hê.
Mashale sê verskeie polisiebeamptes vergesel hom om self hul verhaal oor die beweerde viktimisering in Luthuli-huis te vertel.
Beamptes wat nie in Mashigo se guns is nie, word verplaas, geïgnoreer vir poste of geskors.
Getuies in die klagte wat hy teen Mashigo by pres. Jacob Zuma se kantoor en die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) ingedien het, word glo ook geviktimiseer.
Sr.supt. Sam Makhele, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, het by navraag aan Volksblad gesê die polisiediens word geregeer deur reëls, regulasies en beleidstellings. Daar is ’n grieweprosedure wat beswaarde lede kan volg.
Hy sê volgens hul rekords is die polisiebestuur nie bewus van een van die sake wat in die griefskrif vervat is nie en kan nie hieroor kommentaar lewer nie. Wat die direkteur betref teen wie ’n klag van verkragting ondersoek word, moet die gereg toegelaat word om sy gang te gaan.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment