Tuesday, March 23, 2010

Biddag wys Kaapstad is slaggereed vir skouspel




Biddag wys Kaapstad is slaggereed vir skouspel


2010-03-23 00:04

Theuns van der Westhuizen en Jana Breytenbach
Kaapstad
Die sowat 43 850 Christene wat gister die Kaapstad-stadion volgepak het om na die evangelis Angus Buchan te luister en ook vir die stadion te bid met die oog op die Wêreldbeker-sokkertoernooi, het gewys Kaapstad is slaggereed vir dié skouspel.
Duisende Christene het van 11:00 na die Kaapstad-stadion gestroom vir die Jesus vir Kaapstad-saamtrek – een van verskeie biddae in Wêreldbeker-stadions landwyd – waar Buchan die groot trekpleister was.
Onder die hooggeplaastes was me. Helen Zille, die Wes-Kaap se premier.
Alles, ook die vervoerreëlings na en van die stadion, het glad verloop en daar was geen misdaadverwante voorvalle nie, het die burgemeester, mnr. Dan Plato, gesê. Gister was die stadion se derde en grootste proeflopie vir die Wêreldbeker-toernooi.
Buchan het Psalm 37 as teks gebruik en gesê verskillende geleenthede klop tans aan Suid-Afrika se deur. Suid-Afrikaners het nou die geleentheid om aan besoekers te wys hoe God mense se lewe verbeter en ook hoe verskillende geloofsgroepe in vrede kan saamwoon.
Die tweede deel van sy preek het gehandel oor die rol wat die man in die gesin speel. Mans is die leiers in die gesin en as hulle ’n dienende gesagsposisie inneem, sal gesinne makliker herstel.
“Kinders sal dan na God gryp en nie na dwelms nie, want hul pa doen dit nie.”
Mnr. Graham Power, bekende Kaapse sakeman en organiseerder van die eerste groot Christen-byeenkoms in Kaapstad nege jaar gelede, het bely hy leef sedert die eerste saamtrek in Februarie 1999 vir Christus en het innerlike vrede.
Die saamtrek het sedertdien gegroei tot ’n wêreldwye biddag waaraan 350 miljoen mense verlede jaar deelgeneem het.
Dít was die eerste golf van geloofsherlewing. Die tweede golf begin nou onder die vaandel van “Onbeskaamd Eties”, wat onlangs van stapel gestuur is. Daarna kom ’n derde golf wat ten doel het om Afrika te hervorm tot die “Lig vir die Wêreld”.
Power en mnr. Steve Johnston van die “Onbeskaamd Eties”- veldtog het gesê hulle daag alle Suid-Afrikaners uit om hulle in die openbaar te verbind tot die veldtog, wat ’n etiese samelewing bevorder.
Vroeër het kom. Mzwandile Petros, Wes-Kaapse polisiekommissaris, ’n beroep op Christene gedoen om betrokke te raak in die stryd teen misdaad in die Wes-Kaap.
- Die Burger

No comments:

Post a Comment