Monday, March 15, 2010

Beleid sal SA in Zimbabwe- situasie dompel




Beleid sal SA in Zimbabwe-situasie dompel


2010-03-15 02:25
Pieter du Toit
KAAPSTAD. – Suid-Afrika stuur op ’n Zimbabwe-tipe krisis af indien die ANC-regering nie van sy planne gaan afsien om landbougrond te “nasionaliseer” nie, het die DA gister gesê.
Me. Annette Steyn, DA-LP en ’n woordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming, het dié voorneme as ’n “verstommende verwikkeling” bestempel en gesê dit maak pres. Jacob Zuma se onlangse verwerping van die nasionalisering van myne ongeldig. “Hy het (oorsee) gesê Suid-Afrika is oop vir besigheid. Dié planne is ’n absolute verwerping van alles wat hy gesê het. Só ’n skuif sal reuse-skade doen aan die land se beleggingsvooruitsigte, aan die landbousektor en aan enige vooruitsigte om grondhervorming reg te ruk,” het sy in ’n verklaring gesê.
Die plaas van alle landbougrond onder staatsbeheer sal op ’n ramp uitloop. “Pragmatisme en ’n doelgerigte beleid om ekonomiese groei te verseker is in Suid-Afrika nodig, nie die beleidsrigtings wat Zimbabwe op sy knieë gedwing het nie.”
Dr. Pieter Mulder, VF+-leier en ook die adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, het gesê daar is geen twyfel oor die regering se voorstelle nie: “Dit beteken die nasionalisering van grond.
“Benewens die ongrondwetlikheid daarvan sal dit buitelandse beleggers permanent afskrik, onsekerheid op die platteland veroorsaak en voedselsekerheid vernietig.
“Die grootste rede waarom boere nie meer in hul bedrywighede belê nie, is onsekerheid. ’n Erfpagstelsel sal dit vererger. Enige regeringsamptenaar wat dink die ontwikkeling van landelike gebiede is sonder die samewerking van kommersiële boere moontlik, ontken die werklikhede van Suid-Afrika.”
Mnr. Jan Bosman, uitvoerende hoof van die Afrikanerbond (AB), sê op sy beurt in ’n verklaring die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsregte, wat die omstrede Wet op Onteiening in 2008 met groot sukses teengestaan het, sal weer in die lewe geroep word. Dié groep het bestaan uit onder meer die AB, AfriForum, AgriSA, TAU-SA, DA, VF+ en die F.W. de Klerk-stigting.
Hy sê die groep sal hom beywer vir moontlik regsaksie, die mobilisering van buitelandse mening en openbare druk.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment