Tuesday, March 30, 2010

Nkwinti gaan te ver, sê Dr Theo de Jager




Nkwinti gaan te ver, sê


2010-03-30 01:26
Sarel van der Walt
Pretoria – Die uitlatings van mnr. Gugile Nkwinti, minister van grondsake en landelike ontwikkeling, dat boere die blaam sal dra “vir ’n situasie heel moontlik erger as Zimbabwe” as hulle nie met die regering saamwerk nie, is verregaande.
Só het dr. Theo de Jager, vise-president van Agri SA, gistermiddag in Muldersdrift op ’n grondkonferensie van die Suider-Afrikaanse konfederasie van landbou-organisasies (Sacau) oor Nkwinti se uitlating op ’n eNews-program gesê.
“Boere wat al in 2001 as vrywillige verkopers in grondeise soos dié in Mooketsi (Limpopo) na vore getree het, wag ná nege jaar nog om weer van die minister se departement te hoor.”
“Verlede week het boere uit die Onderberg (in die Mpumalanga-Laeveld) wat hul plase in 1999 aangebied en in 2007 aanbiedinge aanvaar het, meer as sewe uur lank op die provinsiale grondeisekommissaris, me. Thumi Seboka, vir ’n vooraf-bevestigde afspraak gewag.
“Hulle het onverrigter sake teruggekeer, omdat sy glo ‘te moeg was’ om aan hul transaksie aandag te gee,” het de Jager gesê.
Hy het ook gesê Nkwinti se departement se baanrekord is niks om op trots te wees nie.
Die departement se mislukkings lê soos slagvelde oor die land heen.
“Die minister het verlede week met sy begrotingsdebat in die parlement self erken dat meer as 90% van alle grondhervormingsprojekte in duie gestort het. Hy het ook gesê die resultate het almal in Suid-Afrika teleurgestel.
“Byna al die opposisiepartye het in reaksie op sy begrotingstoespraak na die onbevoegdheid van ­– en die korrupsie ­– onder van sy amptenare verwys as die vernaamste struikelblok vir grondhervorming,” het De Jager gesê.
“Agri SA het ’n omvattende voorstel aan hom oorhandig oor hoe uit die huidige situasie gekom kan word sonder om onherstelbare skade aan landboubeleggings en voedselsekerheid in die land te berokken.
“In dié voorstel is die minister uitgedaag om ’n deurtastende wetenskaplike ondersoek te doen na die kragte wat grondhervorming laat sloer, grondpryse opjaag, en miljarde rande in sy departement verlore laat gaan,” het De Jager gesê.
“As die minister enige vertroue in sy senior amptenare en adviseurs, of in sy eie beskuldigings het, is daar mos niks wat hom sal laat huiwer om só ’n onafhanklike ondersoek te laat doen nie.”
- Volksblad

No comments:

Post a Comment