Friday, March 19, 2010

Verslag oor SA polisiedienste verdoemend

Verslag oor polisie verdoemend

2010-03-19 00:53

KAAPSTAD. – Bevelvoerders by 733 van die land se 1 116 polisiekantore versuim die mees basiese plig om beheer en toesig oor beamptes, dossiere, wapens en voertuie uit te oefen.

Weeklikse inspeksies word “in die algemeen geminag” en nasionale opdragte verontagsaam. Voorts het bevelvoerders en ander hoofde ’n “ernstige gebrek” aan vaardighede en kennis. In die Noord-Kaap sluit die probleme in dat speurders nie terugvoer gee in sake wat ondersoek word nie, en dat die afneem van verklarings nie aan die vereistes voldoen nie.

Dié verdoemende bevindings is vervat in ’n verslag van die polisie se nasionale inspektoraat wat van April tot Desember verlede jaar landwye inspeksies onderneem het om te bepaal of bevelvoerders dissipline handhaaf en polisiekantore behoorlik bestuur word.

Komm. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het die verslag twee weke gelede op versoek aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie beskikbaar gestel.

Die meerderheid van die inspeksies was by polisiekantore in Gauteng (316), Mpumalanga (120) en die Vrystaat (66). Dit skets ’n donker prentjie van wat daagliks by polisiekantore aan die gang is en hoe die mees basiese beheer en kontrole ontbreek.

Die inspektoraat het bevind speurders se ondersoekwerk is in al die provinsies “swak”, onder meer weens ’n gebrek aan opleiding en vernuf. In KwaZulu-Natal word dit selfs aan “pligsversuim” toegeskryf.

Speurders in die Noord- en Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal gee voorts nooit terugvoering aan klaers oor hoe ondersoeke vorder nie. Indien dit wel gebeur, word dit nie in dossiere aangeteken nie.

Van die ander bevindings is:

  • Daar is swak toesig en beheer oor die gebruik van polisievoertuie;
  • Die boekhouding en bestuur van polisiewapens is onvoldoende in die Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Noordwes en die Oos-Kaap;
  • Die verlies van vuurwapens word nie aangemeld nie en as dit aangemeld word, word dit nie behoorlik bestuur nie;
  • Toesig oor die SAP 13-pakkamers waar die polisie bewysstukke vir veilige bewaring inteken, is ondoeltreffend en ’n “groot bekommernis”;
  • In die Noord- en Oos-Kaap en Gauteng word daar nie parade gehou wanneer beamptes vir diens aan- of afmeld nie.
  • Weens die swak toekenning van personeel is daar by sommige polisiekantore in die Wes-Kaap te min beamptes om ’n 24-uur-diens te lewer;
  • Daar is ’n gebrek aan “toewyding en integriteit” by beamptes in Mpumalanga;
  • Geen inspeksies word gedoen by speurtakke in die Noord-Kaap, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en KwaZulu-Natal nie;
  • Die verklarings wat beamptes in die Noord-Kaap en Limpopo afneem, voldoen nie aan die vereistes nie;
  • Die bestuur van personeel se verlof, siekteverlof en wegblyery van die werk is “problematies”;
  • Beamptes betaal nie vir persoonlike telefoonoproepe nie en daar word ook nie behoorlik rekord gehou van persoonlike telefoonoproepe nie.

Cele het in sy skrywe aan die portefeuljekomitee gesê die inspektoraat se bevindinge is einde Desember aan die provinsiale polisiehoofde gestuur “vir korrektiewe optrede” waar nodig.

Die komitee het vroeër vandeesweek uitgevaar teen die terugkeer na die apartheidspolisie se range om dissipline binne die polisie te herstel. Lede het die topbeamptes daarop gewys dat net goeie bestuur die polisie kan regruk.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment