Saturday, March 20, 2010

ANC verkla Vryheidsfront + omdat hy " regses teen Malema opsweep "







ANC verkla VF+ omdat hy ‘regses teen Malema opsweep’
2010-03-19 23:08
Lizel Steenkamp
Kaapstad

Die ANC gaan die VF+ by die gelykheidshof verkla omdat sy “Vervolg Malema”-veldtog regses opsweep om plaasmoorde op die berugte jeugliga-leier te wreek.

Mnr. Jackson Mthembu, die regerende party se nasionale woordvoerder, het gister ook gesê die veldtog stel mnr. Julius Malema se lewe in gevaar en dat dit selfs tot sy “teregstelling” kan lei.

Die ANC het besluit om Malema onder sy vlerk te neem nadat hy die struggle-lied “Kill the Boere” onlangs by politieke byeenkomste gesing en dit groot woede uitgelok het.

Minstens twee veldtogte – “Stop Malema” van AfriForum en “Vervolg Malema” van die VF+ – is sedertdien op die internet begin.

Die VF+ se veldtog, wat in die vorm van ’n polisiedossier aangebied word, beskuldig Malema van “haatspraak teen Afrikaners, minderhede en blankes”. Volgens die party skep Malema ook ’n “atmosfeer waarin misdaad, plaasmoorde en vrees gedy”.

Ondersteuners word voorts versoek om ’n protesbrief te onderteken waarin pres. Jacob Zuma gevra word om Malema as president van die ANC-jeugliga af te dank.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, was gister stomgeslaan oor die ANC se besluit om hulle gelykheidshof toe te sleep.

“Ons wil Malema nie dood hê nie, anders as die lied wat hý sing dat ‘Boere doodgeskiet’ moet word.”

Volgens Mulder het die ANC nie begrip vir die emosies wat die lied by wit mense uitlok nie en het die party ook geen idee wat haat­spraak is nie. Hy het só ’n klag vroeër die week by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria teen Malema aanhangig gemaak.

Mthembu het egter volgehou die VF+ voer ’n persoonlike veldtog teen Malema en dat hy “beswadder” en “geïsoleer” word. Ook dat die VF+ ’n gunstige omgewing skep vir “waansinnige verregses” om Malema aan te val.

“Ons sal hulle (die VF+) verantwoordelik hou (as iets met Malema gebeur),” het Mthembu gewaarsku. “Hulle verbind hom (Malema) met plaasmoorde. Dis belaglik. Wie weet watter verregses wag om wraak te neem?”

Volgens Mthembu het geen hof die “Kill the Boere”-lied onwettig verklaar nie.

“Vir ons (die ANC) is dit teen die stelsel van apartheid gemik. Daai lied is nie deur Malema uitgedink nie. En wie ook al ’n probleem daarmee (die lied) het, het ’n probleem met die struggle.”

Hofdokumente sal vroeg volgende week op die VF+ beteken word.


- Die Burger

No comments:

Post a Comment