Tuesday, March 23, 2010

Koos nog nie klaar met taalstryd nie

Koos nog nie klaar met taalstryd
2010-03-23 01:03

Cobus Coetzee
JOHANNESBURG. – Met ’n nuwe heup wil mnr. Koos van der Merwe, IVP-hoofsweep, die stryd teen verengelsing voortsit.
Van der Merwe en sy vrou, Annette, het gistermiddag op ’n vliegtuig geklim na Kaapstad, waar hy ’n heupvervangingsoperasie sal ondergaan.
Dit is nadat hy die naweek geweier het om by die Life-Wilgers-hospitaal in Pretoria-Oos opgeneem te word omdat dié hospitaal se opnamevorms net in Engels beskikbaar is.
Van der Merwe het verlede week in ’n rusie met die hospitaal betrokke geraak omdat hy voel sy taalregte word misken.
Me. Marietjie Shelly, kommunikasiebestuurder van Life, het vroeër bevestig die opnamevorms is slegs in Engels beskikbaar, maar dat daar geen wetlike plig is om sulke vorms in alle landstale beskikbaar te stel nie.
“Hulle wil Engels aan ons opdwing. Daarmee is al in die tyd van Lord Charles Somerset begin...gedurig moet ons teen verengelsing veg en ek is bereid om dié stryd voort te sit,” het hy gesê.
Van der Merwe sal môre in die Panorama-Medi-Clinic-hospitaal, in Kaapstad se noordelike voorstede, onder die mes kom. “Ek gaan terug na ander dokters in die Kaap. Ek het hulle gebel en dié het gesê hulle gaan my Afrikaanse vorms gee, of dit wat ek wil hê. So, ek is tevrede,” het hy gesê.
Van der Merwe glo daar is ’n geweldige weerstand aan die opbou teen Life en sy taalbeleid.
Volgens hom is daar verskeie burgerlike organisasies en ander instellings wat hul stem by “die stryd” sal voeg.
“Hulle wil nie Afrikaans hê nie. Dit is die kort en die lank daarvan. So hulle moet nou maar die pak vat, Ouboet,” het hy gesê.
Van der Merwe sê sy vrou sal nou 15 km van hul huis in Bloubergstrand na die hospitaal moet ry om hom te besoek en sal hom nie in die aand kan besoek nie.
Die hospitaal in Pretoria is maar ’n kilometer van hul huis in die hoofstad.
“As jy jou nek wil uitsteek vir jou taal, is dit maar wat jy moet doen,” het hy gesê.
Van der Merwe dreig dat as Life nie hul taalbeleid hersien het sodra hy uit die hospitaal ontslaan word nie, hy ’n betoging by die hospitaalgroep se hoofkantoor sal reël. “Hulle het my verneder, my skade berokken...” Hy sê enige operasie bring stres mee en as ’n mens so rondgefoeter word, is dit baie erger.
- Volksblad

No comments:

Post a Comment